Granaatboordbestuur
Die kommersiële produksie van granate vereis gereëlde fisiese arbeid om groot, gesonde vrugte met goeie kleur te verseker. Bestuurspraktyke van granaatboorde sluit in snoei, oplei, uitdun van vrugte, beskerming teen sonbrand en pesbestuur.
Snoei van Granate
Granate kan of groei as multi-stam bome (drie tot ses stamme is die beste) of as enkelstam bome. Maak seker dat die hoogte van die boom beperk word tot 2 – 2,5 m omdat dit makliker is vir hande-arbeid. As boere nuwe granaatboorde aanlê, moet hulle seker maak dat ongeveer 80% van die hande-arbeid in die boord sonder die gebruik van lere moontlik is, adviseer Jorrie Mulder, tegniese raadgewer van die Pomegranate Producer’s Association of South Africa – POMASA.
Meerstammige granaatbome neig om vroeër ryp te word en het dikwels meer vrugdraende takke terwyl dit weer in ‘n enkelstamboord makliker is om waterlote (ekstra nuwe lote) teen die basis van die stam te verwyder. Meerstammige- en enkelstambome dra ewe veel vrugte.
Snoei van die vrugdraende boom sal hoofsaaklik bestaan uit die verwyder van oortollige groei, dooie takke en lote.
Om die verlangde vorm en hoogte van die boom te beheer, moet dit in die winter gesnoei word. Om die binnekant van die boom oop te hou (vir beter penetrasie van sonlig en om humiditeit te verminder) is snoei in die somer weer beter.
Oplei van Granate
Daar word aanbeveel dat granaatbome opgelei word om die takke te ondersteun wat die swaar vrugte dra. Soos die vrugte ryp word, rem dit die takke af. Dit kan die vrugte aan erge sonbrand blootstel. ‘n V-vormige opleisisteem sal die takke ondersteun, die binnekant oopmaak vir beter sonpenetrasie en sal ook beter penetrasie van spuitstowwe verseker.
Drie byomende voordele van die oplei van granate is:
Oplei verminder windskade aan vrugte. Vrugte wat aan opgeleide bome groei is minder geneig om teen mekaar te skuur op winderige dae.
Minder sonbrand. Oplei laat die takke so groei dat die blare die vrugte beskerm.
Oplei vergroot die oppervlakte area vir vrugte dra.
Uitdun van Vrugte
Granate blom in drie sarsies van September tot November wat beteken dat die vrugte ook in sarsies sal ryp word en daarom verskeie kere geoes moet word. Oor die algemeen beteken vroeë blomme groter vrugte (langer groeiseisoen).
Te veel vrugte aan die bome het ‘n negatiewe uitwerking op die grootte van die vrugte sowel as die drag van die volgende seisoen. Om dit te verhoed, is uitdunning van vrugte ongeveer ‘n maand nadat die bome geblom het, ‘n goeie praktyk.
Dis ook belangrik om vrugte wat in trosse groei, uit te dun – verwyder die kleiner vruggies. Trosse vrugte skep ‘n ideale omgewing vir insekte en siektes om te floreer. Verwyder ook beskadigde vrugte en vrugte wat op swak takke groei.
Sonbrand in Granate
Granate groei hoofsaaklik in die warmer gebiede met gemiddelde somertemperature tussen 32°C en 35°C. In jong bome met min blare kan hierdie intense sonlig sonbrand veroorsaak in die vorm van groot swart kolle op die skille van vrugte. Dit sal die vrugte onbemarkbaar maak en kan ook veroorsaak dat vrugte kraak.
Verskeie maatreëls kan geneem word om sonbrand te voorkom:
Aaanpas van besproeiing en bemesting
Aanwending van UV-beskermende agente
Papiersakke: Nadele sluit in skaafmerke (veroorsaak deur die papier wat teen die skil skuur), peste slaags steeds daarin om die vrugte binne te dring
Skadunet: Evaluasies van verskeie tipes skadunet word tans in die Van Riebeeck vallei gedoen (2019).
Plantbeskerming in Granate
Daar is nog nie veel navorsing in Suid-Afrika gedoen oor peste en plae van granate nie, maar verskeie spuitmiddels is tussen 2014 en 2018 geregistreer vir gebruik op granate. Die ‘Alternative Crops Fund’ van die Wes-Kaapse Departement van Landbou het fondse beskikbaar gestel hiervoor. Dit het gehelp om die uitvoer van granate te verhoog, omdat dit nuwe markte vir Suid-Afrikaanse granate oopgemaak het.
Die vernaamste pes van granate is die vals kodlingmot. Ander peste sluit in dopluise, wolluis, vrugtevlieg en blaaspootjie. Blaaspootjies veroorsaak skilskade wat lei tot krake en sekondêre infeksies.
Die belangrikste siektes van granate is botritis (kroonvrot), Altenaria (swart hart). Phytoptera en bakteriële roes.
Fisiese probleme sluit in interne afbreking, kraak van vrugte, verkoelingsbeskadiging en wangevormde vrugte. Oor die algemeen word onbruikbare vrugte in die boord uitgeskot sodat daar slegs minimale sortering in die pakstoor nodig is.
Die hoofprobleem van granate is die oopbars van ryp vrugte wat met tot 50% van die oes kan gebeur. Gereelde besproeiing en ‘n behoorlike bemestingsprogram kan die skade beperk.
Translated by Elna Van Rhyn