Die Viering van Tuiskomste in die Xhosa-kultuur

Goldie Qayiya verduidelik die viering van ‘n famlielid se tuiskoms en die oop uitnodiging aan die gemeenskap om ook deel te neem.

Otto Qayiya se Jaarlikse Terugkeer

©Eric Miller

Die dag nadat Otto tuisgekom het vir sy Desembervakansie, het ons ‘n skaap gekoop om te slag vir die feesviering. Otto en ek het na ons buurman, Mnr Madondile gegaan, en hom R300 of R400 kontant gegee en daardie middag het een van Mnr Madondile se seuns vir ons die skaap gebring.

Hy en Otto het dit geslag. Toe ons eie seuns, Vusi en Phumie groot genoeg was, het hulle dit gedoen. Dis nie moeilik nie – hulle word groot daarmee, so hulle weet hoe. Ons het ons vriende, bure en familie genooi om partytjie te hou, met dans en musiek, wat die hele Saterdag geduur het.

Dit was altyd ‘n heerlike naweek. Nadat die vleis gaar was, het ons ou grasmatte op die vloer gesit en ons almal het daarop gesit, die ouer vroue in een kring, die middeljariges in ‘n ander kring, die jonges in ‘n derde kring en die kinders buite. Die mans was naby die kraal. Ons het ‘n bak met vleis al met die kring langs gestuur en elkeen sou ‘n stukkie neem totdat die vleis op was.

Die mans het eerste geëet, daarna was dit die vroue se beurt. Dis die manier waarop Xhosa-mense al vir baie lank geëet het. Ons het borde gehad, maar hulle was net vir baie deftige tye en begrafnisse. Die res van die tyd, selfs gedurende ons feesvieringe, het hulle in die kas gebly.

Almal is Genooi

©Eric Miller

As ‘n besoeker opgedaag het tydens die fees, sou ons gesê het, ‘Kom, eet saam met ons.’ Ons het nooit iemand weggejaag nie. Ons bure het na al ons feeste toe gekom, en ons het na al hulle s’n gegaan. Dis hoe ons geleer is. Daar was nie yskaste in daardie dae nie en ons het spesiale maniere gehad waarop ons die vleis gebruik en bewaar het nadat ‘n skaap geslag is. Sommige mense doen dit vandag nog so. Eers het ons die lewer, longe en binnegoed skoongemaak en gekook.

Die volgende dag het ons die bene in stukke gesny om te kook, miskien vir ‘n middagete. Daarna is die lyf van die skaap ingesout. Die vleis is buite op die muur van die kraal gesit met ‘n laag sout daarop. Dan is dit bedek met blare van die bome sodat die vlieë sou wegbly.

Na omtrent vyf dae, as die vleis effens droog was, het ons dit na binne geneem en op ‘n stuk sinkplaat gesit, met ‘n kantdoek bedek en in die kas gesit. Al hierdie dinge het die vleis vars gehou. Na omtrent ‘n week en ‘n half, was die vleis droog, maar bewaar, en reg om gekook te word. Ons het elke dag ‘n bietjie gekook en enigiemand wat wou gehad het, kon gekry het.

Translated by Elna Van Rhyn