Corchorus is Wilde Kiesieblaar

Wilde jute/Kiesieblaar (Corchorus olitorius) is ‘n voedsame blaargroente wat in Suid-Afrika geëet word en val onder die versameling blaargroentes bekend as morogo of imifino.
Daar word beweer dat dit heel eerste verbou is in antieke Egipte en dit word ook soms Egiptiese spinasie of molokhia in Arabies genoem. Dit het ook ‘n rol gespeel in die antieke Joodse kultuur, vandaar die naam ‘Jew’s Mallow’. Die plant staan in Suid-Afrika bekend as wild jute (Engels), kiesieblaar/wilde jute (Afrikaans) thelele (Sepedi), delele (Tshivenda), gushe of bush okra. Dit kom wydverspreid voor in droë streke van Afrika, asook die Midde-Ooste. Kiesieblaar groei wild of naby plattelandse dorpies in die KwaZulu-Natal, Limpopo, Oos-Kaap en Mpumalanga provinsies van Suid-Afrika.
Kiesieblaar is ‘n eenjarige, regopgroeiende kruid wat tussen 20 cm en 1.5 m hoog word, afhangende van die kultivar. Die vars blare en lote word geoes vir voedsel. Die blare word gebruik vir die behandeling van blaasinflammasie, gonorree en pynlike urinering. Die growwe stingels word gebruik vir die maak van tekstiele en papier terwyl die ligte hout gebruik kan word om vuurhoutjies van te maak. Navorsing deur die Universiteit van Fort Hare het bewys dat blare van die kiesieblaar baie meer voedingswaarde het as dié van kool en spinasie.

Die Eet van Wilde Jute

Blare van die kiesieblaar is baie voedsaam, bevat baie proteïen (4.5%), is ryk aan beta-karoteen, yster, kalsium, B-vitamienes, folaat, vitamiene C en E en dieetvesel. Hoewel kiesieblaar dikwels vergelyk word met spinasie, is die tekstuur en geur daarvan anders; dis meer ‘aards’. Die geur word gekomplementeer deur knoffel en vars suurlemoensap. Kiesieblaarblare word dikwels in hoendersop gekook, met knoffel en gedroogde koljander gegeur en op rys bedien.
Blare kan rou of gekook geëet word, maar word slymerig as dit gekook is, soortgelyk aan okra. Deur kiesieblaarblare te voeg by blare met ‘n growwe tekstuur soos die van swartbekboontjies, kan bejaardes dit makliker eet. Om die slymerigheid te verminder, voeg koeksoda by die kookvloeistof.
Jong blare word meestal by slaai gevoeg. Gedroogde blare word gebruik om sop te verdik of kan gemaal word om as meel gestoor te word vir ‘n langer leeftyd. Hoewel dit die beste smaak wanneer dit vars geëet word, kan die raklewe van wilde juteblare verleng word deur dit te droog; vars of gekookte blare word in bolletjies gerol en in die die son gedroog. Die groen (onryp) vrugte kan ook gedroog en fyngemaak word in ‘n poeier waarvan souse gemaak word.

Hoe om Kiesieblaar/Wilde Jute te Verbou

Die beste manier om wilde jute te plant is met sade wat 10 cm uitmekaar in rye geplant word teen 5 – 6 kg per hektaar. Week vooraf die sade in warm water vir 24 uur. Die beste planttyd is aan die begin van die reënseisoen. Wilde jute verdra enige tipe grond. Dit verkies warm toestande met temperature tussen 16° en 25° maar is sensitief vir droogte en moet nie in die skaduwee geplant word nie. Dit moet natgelei word nadat dit geplant en verplant is.
In navorsing van die Agricultural Research Council (ARC) het getoon dat die kieseiblaar/wilde jute-oes verbeter indien kunsmis toegedien word, veral stikstof. Stikstof beïnvloed ook die voedingswaarde, soos die stikstof- (N), kalsium- (Ca) en fosfor- (P) inhoud. Die byvoeging van kalsium (Ca) en magnesium (Mg) in die grond kan ie ontwikkeling van vesel verbeter, sowel as die opbrengs en kwaliteit van die blare.
Die algemeenste peste by die wilde jute is spinnekopmyte, springkane, ruspes, kommandwurms en vlooi kewers. Stamvrot (Sclerotium rolfsii) kan vehoed word deur gewasrotasie en die gebruik van verhewe beddings.
Blare of sagte lote kan vanaf 30 – 60 dae nadat wilde jute geplant is (of voordat vrugte ryp word) geoes word, afhangende van die variëteit. Gereelde oes (elke twee of drie weke) verleng die seisoen.

Mediese Vrywaring

Inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Die inligting is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Elna van Rhyn