Brokkoli Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Brokkoli plant met die saai van saad voort.

Hoe om te plant

Sommige produsente plant brokkoli direk in die lande, maar die algemene metode is om saailinge te maak en dit uit te plant as dit 150 mm hoog is.

Spasiëring

Brokkoli moet 40 cm – 50 cm uitmekaar in rye wat 50 cm van mekaar af is geplant word. Dit is omtrent 30 000 – 40 000 plante per hektaar. Dit is raadsaam om die rye oneweredig te maak aangesien dit lig deurlaat en ventilasie verbeter.

Saaityd

Brokkoli word normaalweg in die laatsomer, wanneer die temperature begin daal, gesaai. In Suid-Afrika is dit van einde Februarie in die koel klimaatgebiede tot vroeg Mei in die warmer streke.

Planttyd

Ongeveer vier tot vyf weke na saaityd kan die saailinge uitgeplant word. In Suid-Afrika is dit van vroeg April tot die begin van Junie. In sommige streke waar die lente en vroeë somer temperature laag genoeg is, kan vroeë lente aanplantings gedoen word indien die brokkoli voor hoogsomer geoes kan word.

Groeiperiode

Brokkoli groei vinniger as die ander Brassica plante soos kopkool. Dit kan so vroeg as ses weke na die uitplanting van die saailinge geoes word. Indien die grootste deel van die groeiperiode in die koue wintermaande is, kan dit groei vertraag en die oestyd na agt tot tien weke verleng. Die belangrikste faktor wat die groeiperiode en oestyd bepaal is om te oes voordat die koppe begin blom.

Bemesting

’n Behoorlike grondanalise moet gedoen word. Brokkoli het goeie grond nodig en die gewone bemesting kan met dieremis gemeng word. Voor planttyd moet ’n minimum van 800 kg 2: 3: 4 per hektaar ingeploeg word. Sommige produsente verkies ’n toediening van hoendermis. Brokkoli groei vinnig en dit is dus noodsaaklik dat daar genoeg voedingstowwe gedurende die eerste weke van groei in die grond beskikbaar. Dit bevorder die vorming van ’n gesonde, sentrale kop. ’n Toediening van 350 kg KAN per hektaar moet twee weke na planttyd langs die plantrye gegee word. ’n Verdere 400 kg per hektaar kan op vier tot vyf weke na planttyd gegee word.

Besproeiing

Besproei die saailinge een keer per dag totdat dit uitgeplant word. Maak die grond nat met planttyd sodat die saailinge in klam grond geplant word. Direk na planttyd moet dit natgegooi word. Besproei daarna tussen 25 mm en 35 mm water per week afhangende van temperatuur, reënval en grondtipe.

Translated by Ananda Schoeman