Brandrissie Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Brandrissie plant voort met die saai van saad.

Hoe om te plant

Saad kan direk gesaai word, maar die meeste produsente gebruik nie hierdie metode nie. Die saad word in voorbereide beddings of saadkassies in beskutte areas of kweekhuise gesaai. Sodra die saailinge gevestig is en ongeveer 15+ cm lank en sterk genoeg is, word dit in lande of ’n voorbereide area in kweekhuise uitgeplant. Die gebruik van ’n organiese deklaag of swart plastieklaag voorkom onkruid en die uitdroging van die grond. Dit verwarm en reguleer ook die grondtemperatuur.

Spasiëring

Klein bos-variëteite word 30 cm uitmekaar in rye wat 50 cm van mekaar af is geplant. Dit bied ’n effens groter ruimte vir plaasimplemente en werkers asook om sonlig deur te laat. Groter variëteite word 50 cm uitmekaar in rye wat 60 cm - 75 cm van mekaar af is geplant. Dit vereis sowat 20 000 tot 50 000 plante per hektaar, afhangende van die spasiëring en kultivar wat deur die produsent bepaal word.

Saaityd

In ’n beskutte omgewing soos ’n kweekhuis of waar die laatwinter en lente temperature warmer is kan saaityd in Julie begin. Wanneer saailinge in lande uitgeplant of saad direk gesaai word, is die beste tyd laat in Augustus en September om die koel lenteweer te vermy.

Planttyd

Ongeveer vyf tot ses weke na die saai van die brandrissie saad kan die saailinge sodra dit 15 - 20 cm groot is uitgeplant word. Kies slegs die sterkste plante asook die wat omtrent ewe groot is. In warmer klimate sal dit gewoonlik laat Julie tot middel September wees. Solank die herfs temperature nie te koel is nie kan saailinge egter tot einde November uitgeplant word.

Groeiperiode

Dit kan tot sestien weke vat vanaf saaityd totdat die eerste groen brandrissie gereed is vir oes. Vir vars rooi brandrissies vat dit omtrent vyf tot ses maande en as gedroogde rissies verlang word ses tot agt maande, afhangende van die weerstoestande. Gedroogte brandrissies kan slegs in warmer klimate waar daar geen kans vir reën is nie geproduseer word.

Bemesting

Dit is raadsaam om ’n ordentlike grondanalise te laat doen voordat brandrissie geplant word. Algemene riglyne vir die bemesting van brandrissies word hier bespreek. Maak seker die area is ordentlik omgeploeg en gelyk. Met die laaste ploeg dien 500 kg - 800 kg 2: 3: 4 (30), ’n mengsel van stikstof, fosfaat en kalium, in die boonste 20 cm grond toe.
Indien drupbesproeiing gebruik word is dit beter om die ekwivalent as ’n vloeibare kunsmis gedurende die eerste 4 weke van groei, tot en met wanneer die eerste groen brandrissies geoes word, toe te dien. Vir normale besproeiing moet daar ongeveer 6 weke na planttyd 250 kg KAN per hektaar toegedien word. Hierdie tweede bemesting kan in twee gedeel word en op ses en agt weke toegedien word.

Besproeiing

Besproei ongeveer 15 mm per week vir die eerste drie weke en daarna 30 mm - 40 mm water per week gedurende die groeiperiode. Dit is raadsaam om vogmeters te installeer wat die grondvog monitor. Die meeste van die wortels is in die boonste 40 cm geleë en ’n graaf of vogmeter kan gebruik word om die voginhoud te meet.
Die beste besproeiingstelsel is drupbesproeiing onder ’n plastiek deklaag aangesien dit die boer meer beheer oor die besproeiing en bemesting van die gewas gee. ’n Deklaag voorkom ook onkruid en verdamping. Vloedbesproeiing kan tot te veel water of droë toestande lei aangesien dit moeiliker is om te beheer. Oorhoofse besproeiing kan swamsiektes en verrotting veroorsaak.

Translated by Ananda Schoeman