Brandrissie Gewasbestuur

© Eric Miller

Wisselbou

Brandrissie moet met nie- Solanaceae (aartappel-familie) gewasse afgewissel word om peste en siektes te voorkom.

Opbrengs (ton per hektaar)

Konserwatief: vars – 8 ton; gedroog – 2 ton
Gemiddeld: vars – 15 ton; gedroog – 5 ton
Goed: vars – 20+ ton; gedroog – 10+ ton
Groot kommersiële produsente het al rekord opbrengste van 50 ton per hektaar gehad.

Oes

Vars brandrissies word met die hand geoes en die dra van handskoene word aanbeveel. Die groen brandrissie word eerste geoes en ’n paar weke later word die volwasse gekleurde brandrissies geoes. Die gekleurde brandrissie het die hoogste waarde, maar ’n verlies van ongeveer 20% in gewig kan van groen na rooi verwag word. Brandrissies wat verwerk gaan word, word meganies geoes.
Vir gedroogde brandrissie word die rissies aan die plant gelos om in die son uit te droog en daarna met die hand of meganies geoes. Groot kommersiële boere sal slegs meganies oes. Verskillende areas vir elke mark word geïdentifiseer en op die mees geskikte stadium van rypheid geoes (groen, rooi of droog).

Berging

Sodra vars groen of rooi brandrissies geoes is moet dit by ’n temperatuur van 10°C - 12°C en ’n humiditeit van 90% + gebêre word. Brandrissie wat vir die varsproduktemark bestem is moet verkieslik nie langer as 2 weke lank gestoor word nie. Gedroogde brandrissie kan vir langer tydperke op ’n koel, droë en goed geventileerde plek gebêre word. Dit is belangrik dat dit nie vogtig raak nie, want dit sal muf veroorsaak en die oes voor verkope bederf. Gedroogde rissies wat te lank gebêre word verloor kleur en dus ook waarde.

Plae

Algemene peste is aalwurms (nematodes), snywurms (cutworms), Amerikaanse bolwurms (American bollworms), rooispinmyte (red spider mites), plantluise (aphids) en blaaspootjies (thrips).

Siektes

Algemene siektes is phytophthora, botritis (botrytis), poeieragtige skimmel (powdery mildew), tabakmosaïek-virus (tobacco mosaic virus), kromnek (spotted wilt), bakteriese verwelk (bacterial wilt), sagtevrot (bacterial rot) en bakteriese vlek (bacterial spot).
Vir die gepaste bestryding van siektes en plae is dit raadsaam om die aanbevelings van u plaaslike landbou-voorligtingstegnikus of u chemiese maatskappy se adviseur te volg.

Translated by Ananda Schoeman