Brandrissie

© Louise Brodie

Wetenskaplike naam: Capsicum Frutescens

Plant Beskrywing

Brandrissies het groen langwerpige ovaal blare wat smaller word en in ’n punt eindig. Die brandrissie plant kan regop groei en omtrent ’n meter hoog word, maar sommige variëteite is meer bosagtig en plat op die grond. ’n Kenmerk van brandrissies is die brandsmaak. Hierdie smaak word deur die chemiese stof capsaicin, wat in brandrissies voorkom, veroorsaak.

Gebruike

Brandrissie word gebruik om ’n brandsmaak by groente of vleisgeregte te voeg. Dit word vars of gedroog gebruik.

Grondvereistes en voorbereiding

Brandrissie gedy in ’n sanderige leemgrond wat goed dreineer. Die plant moet gereeld natgemaak word omdat die meeste wortels in die boonste 30 cm - 40 cm grond geleë is en dit baie sensitief is vir droogte.
Indien die organiese inhoud van die grond nie baie hoog is nie moet kompos en ’n goeie organiese materiaal voor planttyd in die grond ingemeng word. Die ideale pH is tussen 6 en 7.

Klimaat

Brandrissie is ’n warm klimaatstoestand gewas wat sensitief is vir koue en ryp. Die groei word vertraag by temperature onder 15°C, maar ook by temperature bo 35°C.
Die plant gedy waar dagtemperature tussen 24°C en 30°C is en die nagtemperature tussen 15°C en 20°C is. Sodra die rissies begin ryp word, is ’n droë klimaat sonder reën verkieslik aangesien reën siektes en besproeiing probleme veroorsaak. Dit beïnvloed ook die uitdroog van die rissies wat as gedroogte brandrissies verkoop word.

Kultivars

Daar is baie brandrissie variëteite insluitend die volgende: Anaheim, Inchanga, Long Red Cayenne, Trinidad, Long Slim Cayenne, Pendant, Scotch Bonnet, Serrano Spitfire, Habanero, Super Cayenne, Ristra, Super Chilli en Skyline.
Daar word voortdurend nuwe kruisings ontwikkel en vrygestel wat unieke eienskappe soos ’n warmer smaak en ’n beter weerstand teen peste en siektes het. Dit is egter raadsaam om jou plaaslike landboukundige oor die beste kultivars vir jou spesifieke klimaat en grondtipe te raadpleeg.

Translated by Ananda Schoeman