Boerpampoen en Hubbard-Pampoen Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Boerpampoen en Hubbard-pampoen plant voort met die saai van saad. Die saad is in ’n saadholte binne-in die pampoene geleë.

Hoe om te Plant

Die saad kan met die hand of meganies in die land gesaai word. Die saai van saad in saadkassies en die uitplant van hierdie saailinge is baie gewild aangesien dit die oestyd vervroeg. Saad kan tydens die koue wintermaande van Julie en Augustus in kweekhuise of onder bedekkings gesaai word en dus vroeër ontkiem.

Spasiëring

©Louise Brodie
Die kruipende rankplant variëteite moet 75 – 100 cm uitmekaar in rye wat 200 cm van mekaar af is geplant word. Dit is ongeveer tussen 5000 en 8000 plante per hektaar. Die bosagtige variëteite moet 50 – 75 cm uitmekaar in rye wat 150 – 200 cm van mekaar af is geplant word. Dit is ongeveer tussen 8000 en 10000 plante per hektaar.

Saaityd

Die direkte saai van pampoen saad word gewoonlik gedoen wanneer die grondtemperature in die lente begin toeneem. Dit kan enige tyd vanaf die middel van September tot die begin van Oktober wees.

Planttyd

Die uitplant van die saailinge is dieselfde tyd as die saai van die saad met ander woorde as die temperature begin toeneem. Dit is middel September tot vroeg in Oktober.

Groeiperiode

©Roger de la Harpe
Hubbard-pampoen word op ongeveer 14 tot 16 weke nadat die saad gesaai is geoes. Boerpampoene benodig effens langer en is normaalweg gereed vir oes tussen 16 en 18 weke nadat die saad gesaai is.

Bemesting

Dit is gewoonlik genoeg om twee keer te bemes, een keer met planttyd en weer 6 tot 8 weke na planttyd. Dien tydens planttyd ’n mengsel van al drie belangrike makronutriënte naamlik stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) toe. Ploeg ongeveer 750 kg 2: 3: 4 (30) per hektaar, net voor die saailinge aangeplant word, in die boonste 20 cm grond in.
Wanneer boerpampoen of Hubbard-pampoen saad direk in die land gesaai word kan dieselfde bemesting soos hierbo gegee word. Dit moet toegedien word net nadat die saailinge ontkiem het en ongeveer vyf sentimeter lank is. Probeer hierdie toediening langs die plantrye, naby die vormende wortelsone konsentreer, sodat die onkruid nie die voeding opneem nie. Onkruid moet gedurende hierdie eerste weke onder beheer gehou word. ’n Tweede toediening van ongeveer 300 kilogram KAN per hektaar kan 6 tot 8 weke na planttyd toegedien word.

Besproeiing

Die grondvog moet minstens twee keer per week gemonitor word. Dit word met ’n graaf of ’n vogmeter gedoen. Te min water is baie stresvol en kan die opbrengs verlaag. Normaalweg sal 30 – 35 mm water per week genoeg wees. Die besproeiingskedule moet aangepas word soos die temperature toeneem. Aangesien die wortelstelsel baie vlak is, kan die besproeiing in twee toedienings per week verdeel word. Dit is veral raadsaam in sandgrond en as die temperatuur styg.

Translated by Ananda Schoeman