Boerpampoen en Hubbard-Pampoen

© Louise Brodie

Algemene naam: Boerpampoen en Hubbard-Pampoen
Wetenskaplike naam: Cucurbit Maxima

Plant Beskrywing

Boerpampoen en Hubbard-pampoen is beide skorsie kultivars. Die plante kan effens bosagtig wees of in die meeste gevalle ’n kruipende rankplant op die grondoppervlak. Boerpampoen en Hubbard-pampoen dra beide manlike en vroulike blomme. Boerpampoen kan oranje, wit of grys skille hê. Daar is baie tipes Hubbard-pampoene, maar die gewildste is die donkergroen en oranje variëteite. Daar is groot variëteite en ook nuwe kleiner “baba” variëteite wat in gewildheid begin toeneem.

Gebruike

Boerpampoen en Hubbard-pampoen word albei gekook, gestoom, gerooster of gebraai. Daar kan puree of sop van gemaak word en dit word ook in pasteie gebruik word of gepreserveer. Hierdie groente is ’n goeie bron van beta-karoteen, vitamien A en kalium. Die sade is hoog in sink en kan net so of in brood of slaai geëet word. Beide pampoene is goed vir diere aangesien boere soms deel van die oes wat nie geskik is vir verkope nie as voer gebruik.

Grondvereistes en Voorbereiding

’n Sanderige tot leemgrond is die beste vir boerpampoene en Hubbard-pampoene. Die grond moet goed dreineer en ’n hoë organiese inhoud hê. Die pH moet tussen 6 en 7 wees. Indien ’n groen dekgewas as organiese materiaal aangeplant word, moet dit ongeveer 12 tot 16 weke voor planttyd plaasvind. Terselfdertyd moet die oorblyfsels van die vorige gewas en onkruid ingeploeg word.
Gebruik ’n skotteleg om die oppervlak gelyk te maak na die oorblyfsels ingeploeg is. Saai die dekgewas saad direk hierna. Dit word gewoonlik voor die koue winter gedoen sodat die dekgewas tyd het om gevestig te raak. Om die groei van die dekgewas, na dit gevestig en omtrent 10 cm hoog is, aan te help is dit raadsaam om ’n stikstoftoediening van ongeveer 150 kg KAN (28) per hektaar te gee.
Sowat tien weke voor planttyd moet die grond geanaliseer word. Omtrent vyf tot ses weke na die dekgewas geplant is moet dit afgesny word en die nodige voeding toegedien word. Dit kan gips, kalk vir die pH of superfosfaat wees. Voeg nou indien nodig organiese materiaal in die vorm van mis of kompos by. Volg dit deur die grond tot ongeveer 500 mm om te ploeg sodat alles deeglik ingemeng is.
As finale voorbereiding vir die plant van die saad of saailinge moet die laaste kunsmis een week voor planttyd met ’n skotteleg in die boonste 20 cm grond ingeploeg word.

Klimaat

Boerpampoen en Hubbard-pampoen groei die beste in ’n warm klimaat met ideale temperature tussen 20°C en 30°C. Die grondtemperatuur moet minstens 18°C wees om die beste saad ontkieming te verseker. Omdat die plant beide manlike en vroulike blomme dra is dit verkieslik om ’n hoër persentasie vroulike blomme te hê aangesien dit die opbrengs verhoog. Temperature van 35°C of hoër tot en met blomvorming verhoog die persentasie manlike blomme wat ontwikkel en verminder dus die opbrengs.

Kultivars

Daar is meer as ’n honderd verskillende kultivars om van te kies. Die beste manier om op een te besluit wat vir die area se spesifieke groeitoestande geskik is, is om die raad van die plaaslike landbou-voorligtingsbeampte of saadhandelaar te vra. Dit is ook belangrik om jou verbruikers se voorkeure in ag te neem. Plant die tipe wat die mark verlang.
Boerpampoen variëteite is Crown Prince, Flat white Boer, Ford, Jarrahdale, Long Island Cheese, Queensland Blue, Star 7001 en 7022.
Hubbard-pampoen variëteite is Green Hubbard, Chicago Warted, Golden Hubbard, Essex Red en Blue Hubbard.

Translated by Ananda Schoeman