Blomkool Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Blomkool plant met die saai van saad voort.

Hoe om te Plant

Blomkool saad kan direk in die land gesaai word, maar kommersiële produsente verkies nie hierdie metode nie aangesien weersomstandighede die ontwikkeling kan vertraag. Probeer om al die saad 10 -15 cm diep te plant.
Die aanplant van blomkool saailinge is meer gewild. Die saad word in saadkassies geplant en in kweekhuise teen 20°C en ’n relatiewe hoë humiditeit gehou. Tussen 30 en 35 dae na die saad gesaai is word die saailinge uitgeplant. Dit moet ongeveer 15 cm lank wees en vyf tot ses blare hê. Blomkool word gewoonlik met die hand geplant, maar die groot kommersiële produsent gebruik meganiese planters.

Spasiëring

Die plante moet 50 cm uitmekaar in rye wat 60 cm van mekaar af is geplant word. Probeer om ten minste 30 000 plante per hektaar te hê. Boere plant ook blomkool in “tram lines” met ’n effens wyer ingang elke tweede ry. Met hierdie metode is daar 40 cm tussen die plante in ’n ry, 50 cm tussen die rye en 60 - 100 cm paaie tussen die “tram lines”.

Saaityd

Alhoewel dit nie die gewildste manier van verbouing is nie kan blomkool saad regdeur die jaar direk in die lande geplant word. Die temperatuur moet egter bo 15°C bly. Moenie in koue temperature onder 10°C plant nie aangesien dit ontkieming bemoeilik.

Planttyd

Blomkool kan die hele jaar geplant word behalwe tydens baie warm of baie koue tydperke. In Suid-Afrika moet die aanplant van blomkool dus tussen Mei en die middel van Augustus as gevolg van die winterkoue vermy word. Plant slegs saailinge wat dieselfde grootte is sodat dit ’n eenvormige oes tot gevolg kan hê.

Groeiperiode

Afhangende van die kultivar en die klimaat is die groeiperiode vanaf die plant van blomkool saailinge tot volwassenheid tussen 8 en 12 weke. Indien die toestande ideaal is kan sommige kultivars binne 6 weke na die aanplant van sterk, goed ontwikkelde saailinge geoes word.

Bemesting

Die beste praktyk is om die aanbevelings volgens die resultate van die grondanalise en tipe gewas te volg. Blomkool gedy met ’n goeie voorraad voedingstowwe en benodig ’n bogemiddelde bemesting tydens die relatiewe kort groeiperiode.
Voor planttyd moet 250 - 300 kg NPK-mengsel soos 3: 1: 5 (35) per hektaar toegedien en in die bogrond ingewerk word. Sodra die nuwe saailinge gevestig is, sowat tien dae na aanplanting, dien 200 - 250 kg 3: 1: 5 (35) per hektaar langs die plantrye toe en maak dit deeglik nat. Herhaal dit op 18 tot 21 dae na planttyd en weer omstreeks op 30 tot 35 dae. Dit behoort voldoende wees om die blomkool volwasse te laat word. Blomkool blare moet ’n gesonde donkergroen wees en as liggroen of selfs geel blare verskyn is ’n verdere toediening nodig.

Besproeiing

Voor en ook direk na planttyd moet die grond deeglik natgemaak word. Moet nie te veel water gee nie aangesien dit die voedingstowwe wat by die plant se wortels toegedien is kan laat verlore gaan. Omtrent 10 mm voor en na planttyd behoort genoeg te wees. Daarna moet 15 mm tot 20 mm per week vir die eerste twee weke, dan gemiddeld 25 mm tot 30 mm per week besproei word. Indien die temperature hoër is kan dit na 35 mm tot 45 mm per week vermeerder word.

Translated by Ananda Schoeman