Blomkool Gewasbestuur

© Louise Brodie

Wisselbou

Plant eers peulgewasse in ’n land voordat blomkool geplant word. Volg die peulgewasse met ’n dekgewas op en daarna ’n plant van die tamatie-familie. Indien die grond gereeld gebruik word om dieselfde gewas te produseer probeer die risiko beperk met streng gewas beskermingsprogramme en dit is ook raadsaam om die grond te berook. Maak seker dat daar genoeg kompos in die grond is.

Opbrengs (ton per hektaar)

Konserwatief: 12 ton
Gemiddeld: 18 ton
Goed: 25 ton

Oes

Blomkool word meestal met die hand deur die gebruik van skerp messe geoes. Die stam word net bokant die grond afgesny en sommige van die omliggende blare word aan die gelos vir beskerming. Daar is oes hulpmasjiene wat met die vervoer en verpakking van die blomkool help. Aangesien die pluk van blomkool selektief is en die koppe baie sensitief is, word dit meestal met die hand gedoen omdat daar nog nie masjiene is wat ’n “slim keuse” kan maak nie.
Soos tegnologie verbeter is daar vooruitgang in die bou van plukmasjiene. Tans is dit egter ’n arbeidsintensiewe, duur proses. Hoe minder daar na die land teruggekeer word om te oes, hoe meer bekostigbaar word dit. Daar moet dus na eenvormigheid gestreef word sodat die opbrengs met die eerste oes hoog is.
Sodra dit geoes is moet blomkool na ’n koel plek vir verdere hantering of berging geneem word. Behandel die koppe versigtig aangesien enige skade tot merke en vinniger bederf kan lei wat die produk minder bemarkbaar sal maak.

Berging

As blomkool vir kort periodes in ’n koel stoor gebêre word voordat dit na die mark gaan moet die temperatuur tussen 2°C en 4°C met ’n relatiewe humiditeit van 95% of hoër wees. As die produk vir langer tydperke van tot 1 maand gestoor word moet die temperatuur +0.5°C tot 2°C en die relatiewe humiditeit 95% of hoër wees.

Plae

Algemene plae is die plantluis (aphid), kommandowurm (army worm), koolwurm (cabbage worm), diamantruitrugmot (diamondback moth), landmeter (looper), aalwurm (nematode), blaaspootjie (thrip) en witvlieg (white fly).

Siektes

Algemene siektes is “wire stem”, alternaria, phytophthora, verticillium, bakteriese blaarvlek (bacterial leaf spot), swartstam (black rot), dikvoetsiekte (cubroot) en donsskimmel (downey mildew).
Dit is altyd die beste om advies te kry en ’n behoorlike gewas beskermingsprogram wat deur die plaaslike chemiese adviseur of landbou-voorligtingsbeampte aanbeveel word te implementeer.

Translated by Ananda Schoeman