Blomkool is van dieselfde plantfamilie as winterblomkool, Brusselse spruite, kool en boerkool. Blomkool kom blykbaar van Suidwes Asië of Turkye af.
Dit is afkomstig van ’n wilde kool en nadat dit verskeie veranderinge ondergaan het, is dit meer as 2000 jaar later die groente wat ons vandag ken.
Die plant het donkergroen geribde blare met getande rande wat ’n stywe wit blomkop omring. Hierdie is die eetbare deel van die plant. Die eetbare deel is ook in Engels as die “curd” bekend.
Blomkool word in sanderige leemgrond wat ’n ryk organiese inhoud het en goed dreineer geplant. Die grond se pH moet tussen 6.5 en 7 wees. Voor planttyd moet die grond goed voorberei word sodat enige organiese materiaal gevestig kan word.
Begin deur grondmonsters te neem. As daar enige voeding soos kalk vir die regte pH of addisionele organiese materiaal soos kompos of mis benodig word, word dit soos per grondmonster aanbeveling toegevoeg.
Dit word omtrent vier weke voor planttyd gedoen. Indien ’n groen dekgewas voor die blomkool geplant moet word, moet dit omtrent 12 weke voor planttyd gedoen word. Ongeveer vier weke voor planttyd moet die groen dekgewas afgesny word. Dit word in die boonste 500 mm grond saam met kompos, mis, kalk en superfosfaat, indien nodig, ingeploeg.
Na nog ’n week moet die grond met ’n skotteleg gelykgemaak word en enige oorblyfsels van die dekgewas in die boonste 20 cm grond ingeploeg word. In die laaste week voor planttyd moet daar weer met ’n skotteleg geploeg word. Dit werk die laaste kunsmis in en roei terselfdertyd enige onkruid wat moontlik begin groei het uit.