Wat is Suid-Afrikaanse Inheemse Groente?

© Chris Daly
Alhoewel inheemse gewasse verwaarloos en onderbenut word in Suid-Afrika, kan dit boerderysisteme diversifiseer, voedselsekuriteit verseker, armoede help verlig en terselfdertyd inkomste verhoog en menslike gesondheid verbeter.
Inheemse groente is bestand teen kwaai omgewingstoestande omdat hulle alreeds by plaaslike Suid-Afrikaanse toestande aangepas het (aangesien die meeste gewasse wild voorkom en dus geskik is vir geen-besproeingsproduksie). Daarby is hierdie gewasse deel van die streek se kultuurerfenis.
‘Afrika-blaargoentes’ verwys na die groep plantspeseis wat as blaargroentes gebruik word en word ook morogo of imifino genoem deur plaaslike Suid-Afrikaners. Afrika-blaargroentes vorm deel van die stapelvoedsel van miljoene (dikwels plattelandse) Suid-Afrikaners en is ryk aan voedingstowwe soos vitamien A en yster.
Die jong, sappige stele, blomme en baie jong vrugte word gebruik as groente. Geregte mag berei word van ‘n enkele groente of uit ‘n kombinasie van verskillende spesies. Om geur by te voeg mag bestanddele soos tamaties, uie, grondboontjiemeel en speserye bygevoeg word. Die meeste van hierdie groente word geoes waar hulle wild groei, hoewel sommige tog gekweek word, meestal om plattelandse gesinne te voed.
Die Agricultural Research Council (ARC) is tans besig met ‘n poging om boere, vroue en kwesbare groepe aan te moedig om hierdie groente te kweek. Navorsingsprojekte deur die ARC fokus op die ontwikkeling van beter bewerkingspraktyke, verbeterde plant-en oesmetodes, bepaling van die optimale water-en bemestingsvereistes, ontwikkeling van nuwe produkte, en grond-water-balans modellering. Hierdie inligting sal gebruik word om boerderyriglyne vir die produksie van Afrika-blaargroentes te ontwikkel.
Die navorsingsprogram het die volgende gewasse bestudeer:
Amarant (Misbredie)
Snotterbelletjies (Cleome gynandra)
Corchorus sop
Nastergal (Solanum retroflexum)
Pampoen en karkoer
Swartbekboontjies (Vigna unguiculata)
Amadumbe (Colocasia esculenta)

Amarant, corchorus en snotterbelletjies is tradisioneel blaargroentegewasse met hoë voedingswaarde en hoë vlakke van kalsium, yster en vitamiene A en C. Amarant en corchorus bevat ook baie proteïene en vesel. Hoewel hierdie gewasse as lae-onderhoud-gewasse beskou kan word en kan groei in arm grond, bewys navorsing dat opbrengs verhoog kan word deur die gebruik van kunsmis en verryking van die grond deur kompos.

Amarant/Hanekam/Rooikatstert

©Dinesh Valke
‘n Uiters veranderbare kruidagtige plant wat van 30 cm tot 2 m hoog kan word. Die jong blare, groeipunte en hele saailnge word as groente ingespan. Sade word gekook soos ‘n graan, gemaal vir meel en gedroog. Blare en stingels word gemaal en as snuif gebruik. Van al die ‘onkruid’ wat as blaargroente beskou word in Suid-Afrika, het amarant die grootste potensiaal as kommersiële gewas.

Oorpeultjie/Snotterbelletjie

‘n Kruidagtige plant met harige blare en stingels. Blare is saamgesteld- soos vingers aan ‘n hand – en word gebruik wanneer hulle jonk is. Soms bitter, kan dit in melk gekook word saam met tamaties en opgedien word soos spinasie.

Kiesieblaar/Wilde Jute Spesies

Algemeen bekend as “Jew’s Mallow” (Corchorus olitorius en Corchorus tridens) is die wilde jute ‘n eenjarige krui met klein geel blommetjies. Gekookte wilde jute het ‘n slymerige tekstuur, soortgelyk aan okra. Om die slymerigheid te verminder kan koeksoda (of selfs beesurine) by die kookwater gevoeg word.

Nastergalkonfyt

Nastergal is ‘n kruidagrige palnt wat tot 75 cm hoog word en is bekend vir sy klein, blink, swart-pers vruggies wat vars geëet kan word, maar meer dikwels in konfyt gebruik word. Die groen vruggies is giftig. Blare en jong lote word gekook, maar blare kan ook rou geëet word.

Pampoen en Karkoer

Die blare van pampoene en karkoere (Citrullus lanatus) word gebruik as blaargroente. As lede van die Cucurbitaceae familie is hierdie plant rankers wat op die grond versprei en word dikwels gebruik om onkruid te beheer. Ook geoes waar hulle wild groei, word die blare, lote, blomme en jong vrugte gekook, terwyl die sade gerooster word as ‘n gewilde peuselhappie.

Swartbekboontjies

©Jud McCranie
Die swartbekboontjie is ‘n blaar- en peulgewas wat inheems aan Afrika is. Beide die rou blare en die ‘sade’ word as groente geëet, terwyl die hele plant as dierevoer gebruik word, vars of as hooi of as kuilvoer. Swartbekboontjiemeel word gebruik om mee te bak en in die geprosesseerde vleisbedryf soos in ‘chicken nuggets’. Swartbekboontjies se proteïene- (18% tot 35%), koolhidrate- (50 tot 65%), en B vitamiene-inhoud is hoog.

Amadumbe

©David J. Stang
Amadumbe, ook genoem ‘taro’, is ‘n knolgroente en staan bekend as die ‘aartapel van die trope’. Hoewel glad nie verwant aan die gewone aartappel nie, word die amadumbe se styselagtige knolle nes aartappels gekook terwyl die blare en blomme as ‘n groen groente geniet word, veral in Wes-Afrika.

Translated by Elna van Rhyn