Vark Asemhalingsiekte Kompleks

©Dr Jim Robinson
Vark asemhalingsiekte kompleks/Porcine Respiratory Disease Complex (PRDC) is ‘n term wat ‘n respiratoriese infeksie beskryf wat veroorsaak word deur ‘n kombinasie van verskeie virusse en bakterieë. Volgens Danie Visser se Modern Pig Production, is dit gewoonlik varke tussen 14 en 20 weke oud wat die kompleks opdoen, maar dit mag ook ouer varke affekteer, afhangende van die patogene wat betrokke is.

Tekens en Simptome

Simptome en die ernstigheid van ‘n infeksie sal varieer, afhangende van die organismes betrokke, maar sluit tipies in lusteloosheid, koors, anoreksie, verlies aan eetlus, swak groei, neus, en oogafskeidings, hoes, en dikwels ‘n pers verkleuring van die vel, veral die punte van die ore. Dit mag ook skielike dood tot gevolg hê.

Oorsake

Stowwerige toestande, giftige gasse soos ammonia, swak ventilasie, blootstelling aan koue, uiterste temperatuurskommelinge, oormatige humiditeit, oorbevolking en stres mag almal by varke die geneigdheid tot PRDC veroorsaak.
In Suid-Afrika word die toestand assosieer met die Coronavirus, Circovirus, en Vark Voortplanting, en Asemhalingsindroom. Volgens Modern Pig Production mag bakterieë wat betrokke is, die volgende wees: Bordetella bronchiseptica, Pasteurella multocida, Haemophilus parasuis, Antinobaccilus pleuropneumoniae, Actinobaccillus suis en Actinobaccillus equuli, Streptococcus suis en Mycoplasma hyopneumoniae, ook bekend as Ensoötiese Pneumonie.
Elkeen van die bakterieë het verskeie serotipes wat varke verskillend affekteer in terme van die simptome, ernstigheid van die siekte en ouderdom waarop varke die kwesbaarste is om die siekte op te doen. Die patogene mag ligte siektes op hul eie veroorsaak, maar raak baie gevaarlik as hulle saam met ander patogene voorkom.

Voorkoming

©National Pork Board, USA
Weens die komplekse aard van die siekte, raai Modern Pig production boere aan om ‘n veearts te raadpleeg vir ‘n voorkomings-, beheer- en behandelingsplan. Streng biosekuriteit sal help om te verhoed dat gesonde varke in aanraking kom met siektedraers, wat enigiets van ander varke, mense, troeteldiere, klerasie tot werksgereedskap mag wees.
Varke moet so min as moontlik beweeg en vermeng word en verkieslik binne dieselfde ouderdomsgroep gehou word vanaf geboorte of vandat hulle op die plaas aankom totdat hulle die plaas verlaat. So ‘n alles-in, alles-uit sisteem sal help om ‘n produksie-eenheid deeglik skoon te maak voordat nuwe varke daarin geplaas word.
Goeie sanitasie en gereelde skoonmaak van drinkplekke, voerbakke en hokke sal voorkom dat siektedraende organismes of giftige gasse soos ammonia opbou. Tesame met goeie ventilasie, sal dit ook goeie lugkwaliteit in die produksie-area verseker. Varke behoort skuiling te hê teen ongunstige klimaatstoestande, nie oorbeveolk wees nie en so min as moontlik hanteer word om stres te minimaliseer.
Entstowwe is beskikbaar om sommige van hierdie siektes te verhoed, maar dis die beste om ‘n veearts te raadpleeg om vas te stel watter van hulle is die belangrikste in jou produksiearea. Gereelde ontwurming sal die risiko verminder van infeksie wat deur wurms veroorsaak word wat in die longe leef of daardeur beweeg. Sommige uitbrake kan met medisyne behandel word, afhangende van die organismes betrokke. Voorkoming is egter steeds die beste medisyne.

Translated by Elna Van Rhyn