Asemhalingsprobleme by Varke

Asemhalingsprobleme is uiters algemeen onder varke wat intensief geproduseer word. Volgens die produksiehandleiding van die South African Pork Producer’s Organisation (SAPPO), “Pigs for Profit”, mag die oorsaak van hoes stowwerige toestande, longontsteking – veral die soort wat veroorsaak word deur Mycoplasma bakterieë – of die Askaris wurm wat uit die longe opgehoes word, wees. Nies mag ook weens stowwerige toestande voorkom, maar ook weens aansteeklike siektes, met atrofiese rinitis wat die skadelikste is.

Longontsteking

©National Pork Board, USA
Longontsteking kom gewoonlik voor by speenvarkies asook jong, groeiende varke. Vogens Pigs For Profit word infeksie van die longe deur bakterieë en virusse veroorsaak na inflammasie van die longe weens stowwerige toestande, koue weerstoestande, vreemde materiaal soos voedsel of medisyne, of parasiete, soos wurms wat in die longe leef of daardeur beweeg.
Afhangend van die tipe infeksie, kan longontsteking lig of baie erg wees, en lei tot ‘n hoë sterftesyfer. Tekens van infeksie sluit in hoes, swaar of vinnige asemhaling, dehidrasie, verlies aan eetlus, swak kondisie, stadige en onegalige groei, koors en blou verkleuring van die vel.
In varke wat gevrek het van longontsteking sal die longe ‘n abnormale kleur hê en uit gesnyde oppervlaktes sal vloeistof en etter vloei. Gedeeltes van die longe mag ook ferm wees soos lewer en sink volgens Pigs For Profit.

Atrofiese Rinitis

Progressiewe atrofiese rinitis is ‘n bakteriële siekte wat die neusvoering (slymvlies) beskadig en misforming in die snoet veroorsaak. Volgens The Pig Site, affekteer progressiewe atrofiese rinitis hoofsaaklik jonger varke, soos babavarkies, speenvarkies en groeivarke.
Vroeë tekens sluit in nies, snuif en ‘n nasale afskeiding, met die nies wat dikwels gepaard gaan met bloeding. Daar mag ook ‘n afskeiding uit die oë wees wat ‘n driehoekige vlek by die binnehoek van die oog veroorsaak. Die neus en/of die bokaak mag verdraai, verkort en geplooi wees. Babavarkies verloor hul aptyt, eet minder en groei swak.
Die siekte mag ook longontsteking tot gevolg hê en veroorsaak dat varkies meer vatbaar is vir sekondêre infeksies. Sôe mag dalk nie wys dat hulle draers is van die bakterieë nie, maar hulle gesigte kan skeefgetrek wees.

Behandeling

‘n Stowwerige omgewing, swak ventilasie, lae humiditeit en toksiese gasse soos ammonia, mag almal veroorsaak dat varke Atrofiese Rinitis ontwikkel. Daarom sal ‘n skoon, goed-geventileerde produksiearea help om die siekte te voorkom. Oorbevolking moet vermy word want dit mag die risiko om die siekte te ontwikkel, verhoog.
Goeie biosekuriteitsmaatreëls sal ook help, aangesien die aanwesigheid van ander siektes ‘n vark meer vatbaar mag maak om atrofiese rinitis te ontwikkel. Siek speenvarkies kan met antibiotika behandel word en sôe kan ingeënt word sodat hulle nie die siekte oordra na hul kleintjies nie.

Translated by Elna Van Rhyn