Tiemie Verbouing

Voortplanting

©Louise Brodie
Tiemie word van saad gekweek, maar steggies kan ook gebruik word, of die gevestigde plant kan opgedeel en uitgeplant word.

Plantmetode

Grootskaalse besaaiing word direk in die plantarea met meganiese planters gedoen. Groot kommersiële produseerders plant gewoonlik saailinge wat in 'n kweekhuis gekweek is. Dit gee die groeier meer beheer oor die plantdigtheid en gelykvormigheid. Die tiemiesade word min of meer 6 mm diep in saadkissies geplant. Wanneer die sade ontkiem en sterk saailinge gegroei het, word dit uitgeplant in die land.

Spasiëring

Tiemieplante moet 20 cm uitmekaar in rye 50 cm van mekaar geplant word. Dit is rondom 80 000 plante per hektaar. Paadjies word oopgelaat vir werktuie en trekkers sodat die land bestuur en geoes kan word.

Saaityd

Tiemie word direk in die land gesaai in die herfs. In Suid-Afrika is dit in laat Maart en vroeg April. Dit verseker dat die saailinge ontwikkel voor die winter en dat hulle teen die lente sterk en goed gevestig is.
Saai tiemiesaad in Junie in saadkissies wat in 'n beskermde omgewing of 'n kweekhuis gehou word. Teen vroeg lente behoort die saailinge sterk genoeg te wees om in die land uitgeplant te word. Die saailinge is gewoonlik teen agt weke nadat die saad geplant is sterk genoeg om uitgeplant te word.

Planttyd

Plant die tiemie saailinge in die vroeë lente. In Suid-Afrika is dit laat Augustus en vroeg September na die laaste ryp.

Groeiperiode

Agt weke in die kweekhuis behoort sterk tiemie saailinge voort te bring wat reg is om in die land uitgeplant te word. Sommige produseerders oes so vroeg as twaalf weke na uitplanting reeds die nuwe groeipunte vir vars gebruik. Daarna kan 'n tweede oes voor die herfs gedoen word. Die tweede oesjaar sal meer snitte lewer. Tiemieplante kan vir vier tot vyf jaar geoes word indien dit behoorlik bestuur word. Tiemieplante raak baie stokkerig en bros soos hulle ouer raak, so dit is raadsaam om die plante elke vier tot vyf jaar te vervang.

Bemesting

Tiemie het nie baie kunsmis nodig nie. Voor aanplanting moet 'n grondmonster geneem en vir analise gestuur word. Dit sal die grondtipe en voedingstofvereistes vir die bedoelde gewas identifiseer.
Die volgende aanbeveling kan rofweg gebruik word indien 'n grondanalise nie gedoen word nie. Dien aanvanklik 450 kg 3:1:5 toe en werk dit in die boonste 20 cm van die grond in voor die tiemie saailinge geplant word. Dit sal help dat die saailinge hulself goed vestig. Gedurende die eerste 12 maande is dit veral belangrik dat die plante aanhou groei, dus kan 'n verdere twee toedienings van 200 kg 3:1:5 langs die plantrye gemaak word, een in Desember en nog een in Maart. Verkieslik moet daar ook kunsmis toegedien word na elke oessnit.

Besproeiing

Tiemie is 'n geharde plant wat nie baie water nodig het nie. Indien dit sonder besproeiing geplant word, sal 'n reënval van rondom 500 mm 'n jaar voldoende wees. Permanente besproeiing vergroot egter die opbrengs. Oorhoofse of drupbesproeiing is geskik, maar moenie die plante oorbesproei nie, aangsien dit wortelsiektes veroorsaak en die sterkte van die essensiële olies in die plant verminder.
Afhangende van grondtipes en die weer, sal besproeiingsvolumes verskil van land tot land. 'n Goeie gemiddelde is 20-25 mm per week gedurende die warm somermaande, wat verminder word gedurende die koeler tye of reënmaande van die jaar. Moenie die plante natmaak in die week voor dit geoes word nie, maar besproei onmiddellik na die oes om optimale vogvlakke van die grond te herstel en sodoende spanning te vermy. Dit is raadsaam om vogmeters te installeer om voortdurend die grond te kontroleer.

Translated by Rentia Pretorius