Teelprobleme met Varke

© Dr Jim Robinson
In klein varktroppies met goedkoop insetkoste soos tuisgemaakte behuising en goedkoop voer, is daar ‘n basiese probleem: nie genoeg varke om te verkoop nie. Dit beteken dat daar nie genoeg varke en vleis is waaruit ‘n wins gemaak kan word nie.
Daar is verskeie redes hiervoor, maar die vernaamste is teelprobleme. Die trop bestaan óf uit ongeskikte varke, óf die teelprogram is nie ontwikkel nie, of word nie gevolg nie. Gelukkig kan kleinskaalse varkboere in Suid-Afrika die teel van varke verbeter.

Kry die Regte Teelvarke

Oor die afglope 100 jaar is ‘n konstante stroom van die lang, wit, vinnig-groeiende en vrugbare sôe en bere deur Suid-Afrikaanse telers ingevoer en die gene van hierdie varke is versprei onder die plaaslike troppe. Dit het die potensiaal vergroot dat kommersiële troppe in informele omstandighede kan ontwikkel, maar dit vereis meer sorg en en bestuur.
As daar ‘n kommersiële teler is wat af en toe surplus slagvarke het, sal hulle uitstekende teelmateriaal wees vir ‘n kleinskaalse boerdery. Hierdie varke het die gene wat die kwaliteit van die trop sal verhoog en sal minder kos as hoogs geselekteerde teeldiere.
Kunsmatige inseminasie (KI) is die vinnigste en veiligste manier om die genetiese vlak van ‘n teeltrop te verhoog. Dit behels meer logistiek, kundigheid en uitgawe as wat ‘n trop met minder as 25 sôe wat minder as een werpsel per week produseer, regverdig.
As ‘n reël behoort ‘n mens nie ‘n vark te koop waarvan jy niks weet nie – vermy veilings en spekulasievarke omdat dit die risiko vergroot dat jy diere kan koop met siektes en swak gene. Praat met jou plaaslike diergesondheidstegnikus vir inligting oor die heersende siektes en enige beperkinge.

Die Kies van Vroulike Teeldiere

Die enigste plig van ‘n varksog is om tweekeer per jaar ‘n werpsel gesonde, goed-ontwikkelde speenvarkies te produseer. Groot werpsels wat lewend gebore word is slegs ‘n voordeel vir die boer as hulle ma hulle kan voed en versorg totdat hulle gespeen word. Jong sôe (wat nog nie gepaar het nie) en sôe kan gekies word uit die boer se eie trop of ‘n buurman (met siekte-vrye varke) s’n, solank slegs die beste vroulike nageslag van die beste moeders gebruik word.

Die Kies van ‘n Beer

‘n Varkboer behoort geld te belê in ‘n goeie beer. Die deel van ‘n beer mag seksueel oordraagbare siektes versprei van een trop na ‘n ander. ‘n Beer mag wel deur boere gedeel word op voorwaarde dat sekere reëls toegepas word:
Die beer moet uit ‘n nabygeleë trop kom met dieselfde vlak van biosekuriteit en ‘n rekord van suksesvolle dekking. Die beer moet nie verwant wees aan enige vroulike dier wat hy dek nie en moet na twee jaar na ‘n ander area verskuif word om inteling te voorkom. Daar moet ‘n beer wees vir elke 12 tot 16 vroulike diere en hy moet nie meer as drie keer per week dek nie.

Die Teelsiklus van Varke

Teling met varke het ‘n paar maklike syfers wat gebruik kan word om die beplande produksie en standaarde te meet. Sôe kom elke drie weke op hitte. Hulle sal ontvanklik vir die beer bly vir twee of drie dae, waartydens hulle drie keer gedek moet word met 12 tot 24 uur intervalle. Hou die beer weg van die sôe tussen dekkings om seker te maak dat hy nie onderbreek word terwyl hy besig is nie, wat ongeveer 15 minute mag duur.
Indien die sog binne 18 -22 dae weer op hitte kom, was die paring onsuksesvol en behoort sy weer gedek te word, verkieslik deur ‘n ander beer as daar een beskikbaar is.
As die paring wel suksesvol was, sal die sog dragtig wees vir 114 tot 116 dae (16 weke en drie dae). Sy kan die tyd deurbring saam met ander dragtige (droë) sôe in oop kampe tot ‘n week voor sy jong (geboorte skenk).
Etlike dae voordat sy jong behoort sy verskuif te word na ‘n spesiale skuiling met volop beddegoed – denneskaafsels is die beste, maar koringstrooi, mieliehooi, tefhooi of veldgrassnysels sal ook werk. Sy sal gewoonlik tyd spandeer om ‘n soort nes te maak wat ‘n goeie ding is want dit sal ‘n meer natuurlike geboorte en melkproduksie verseker.
Maak seker dat jy enige skerp of gebreekte voorwerpe verwyder en skep ‘n veilige ontsnaproete – ‘n jongingsreling of sterk balk wat stewig vasgeheg is ongeveer 20cm van vloer en muur sal baie doen om te verhoed dat klein varkies doodgelê word.

Rekordhouding in Varkboerdery

Skryf die die belangrike datums rakende jou varke, hulle teling en voeding neer. Dit behoort in te sluit: Die sog se nommer (of haar naam), die beer wat haar gedek het, datums van haar hitte-siklusse, haar verwagte jongingsdatum en haar werklike jongingsdatum. Skryf ook al die besonderhede van die werpsel neer. Dit behoort in te sluit die aantal varkies wat lewend gebore is, asook die aantal doodgebore varkies. Skryf neer die aantal wat vrek tydens die soogtydperk. Skryf neer wanneer hulle gespeen word (gewoonlik 4 tot 6 weke oud) en die totale aantal varkies wat suksesvol grootgemaak is deur daardie sog.
Dis baie belangrik om die prosedures neer te skryf wat gedurende die soogtydperk gedoen is. Dit behoort in te sluit ‘n ysterinspuiting om bloedarmoede te voorkom (3 -6 dae), identifisering van die beste vroulike varkies, brandsiekbehandeling en inentings, knip van ore met ‘n spesiale intrument met ‘n patroon vir numering en tatoeëring met ‘n geregistreerde tatoeërmerk. Tatoeëring van varke is ‘n wetlike verpligting – sien die afdeling oor die bestuur van speenvarke.

Translated by Elna Van Rhyn