Tamatie Gewasbestuur

© Louise Brodie

Verbouing

Tamatieplante benodig voldoende voedingstowwe om suksesvol te groei. Hierdie voedingstowwe sluit in stikstof, fosfor en potassium en tamaties reageer goed op organiese bemestingstowwe. Die hoeveelheid kunsmis wat toegedien moet word, hang af van die vrugbaarheid van die grond, die seisoen en die kultivar.
Om goed te groei, blomme te dra en die vorm van vrugte te bevorder het die plant ’n matige hoë stikstof vereiste. Hoë vlakke potassium verbeter die kleur, smaak, fermheid, suiker- en suurinhoud van die vrug. Fosfor bevorder wortelontwikkeling, groei, vroeë bloeisels en vrugte.
Tamaties benodig ook mikronutriënte en suurgrond het gewoonlik ’n tekort aan magnesium, kalsium en molibdeen. Boor- en kopertekorte word nie dikwels in tamaties aangetref nie. As ’n boortekort voorkom, veroorsaak dit dat die vrugte kraak, ontpit, vervorm en oneweredig ryp word. Kalkhoudende, alkalise grond kan moontlik ’n ystertekort hê. ’n Ystertekort kan ook voorkom na swaar kalktoediening. Mangaantekort word hoofsaaklik in kalkgrond aangetref.

Bemesting Toediening (kg/hektaar)

emesting: 2:3:4 (30) / LAN / Potassium Nitraat
Toedieningstyd: Met planting / 3 weke en 6 weke / 6, 9 en 12 weke
Vrugbare grond: 300 tot 500 / 250 + 250 / 100 + 100 + 100
Onvrugbare grond: 750 tot 1000 / 200 + 200 / 100 + 100 + 100

Besproeiing

Besproeiing is van kritiese belang in tamatieproduksie. Dit is belangrik om die voldoende hoeveelheid water tydens kritieke tye, soos onmiddellik na besading of oorplanting, te verskaf. Die reëlmatigheid van besproeiing hang af van die grondtipe en temperatuur. ’n Oormaat besproeiing na ’n lang, droë spel wat nie met ligte besproeiing gebreek is nie, sal na krake in die vrugte lei. Dit word nie aangeraai om tamaties met besproeiers te besproei nie, aangesien nat blare die ontwikkeling van vroeë- en laatroes aanmoedig. Gedurende die eerste vier weke, dien 21mm water elke week toe. Gedurende die volgende agt weke, dien 38mm water elke week toe. Vir die res van die seisoen kan 31mm water per week toegedien word. Nadat die vrugte gevorm het, moet die plant nie oorbesproei word nie omdat die vrugte kan kraak of breek.

Gewas rotasie

’n Rotasie program van elke drie of vier jaar word aanbeveel met nie-verwante gewasse om die opbou van grondplae en -siektes te voorkom.

Beplande groei en ranking

Om plante op te lei of te laat rank hou ’n aantal voordele in, insluitend verbeterde besproeiing, beheer van blaarsiektes en plae, minder sonbrand, beter lugsirkulasie en verminderde verrotting. Tamatiekultivars wat ’n onbepaalde groei vermoë het, benodig opleiding of ranking. Gewasse wat geplant word vir die vars mark moet altyd gelei word.

Onkruid beheer

Onkruid kan chemiese of meganies beheer word. Om onkruid chemies te beheer kan geregistreerde chemikalieë toegedien word. Meganiese onkruidbeheer maak van ’n handvurk (of iets soortgelyks) gebruik om die onkruid vlak, maar nie te naby aan die plant nie, uit te haal.

Opbrengs (ton per hektaar)

Konserwatief: 30 ton
Gemiddeld: 40 tot 50 ton
Goed: 80+

Oes

Die uiteindelike gebruik van die gewas, asook die afstand na die mark sal die oestyd bepaal. Tamaties wat verwerk word, word wanneer hulle volwasse is geoes. Tamaties wat oor ’n lang afstand vervoer moet word, word geoes wanneer hulle minder volwasse is. Vrugte wat na die plaaslike mark geneem word, word ook op ’n meer volwasse stadium geoes.
Dit word aanbeveel dat tamaties vroeg in die oggend gepluk word en dadelik na die pakhuis geneem word. Hulle moet nie vir lang periodes in die son of warm areas gelos word nie. In die pakhuis word die tamaties skoon gemaak, gegradeer en verpak.

Stoor

Na-oes bergingstoestande van tamaties word deur die graad van rypheid bepaal. Oor die algemeen word tamaties gestoor teen 12 ° C en 86% tot 90% relatiewe humiditeit.

Peste

Nematodes, knopwortel-aalwurm, snywurm, bolwurm, landmeters, bladmyner (aartappelmot larwe), Amerikaanse blaarmyner, blaaspootjie, plantluis, witvlieg, rooispinnekop

Siektes

Saailingverwelk, bakteriese stipe en vlek, bakteriese kanker, Septoria, bakteriese vlek, botrytis, vroeë roes, laat roes, witroes, blomendverrotting

Translated by Ananda Schoeman