Souzao

© Silvaspoons

Naam

Souzão

Beskrywing

Souzão is ’n rooiwyn variëteit van die Minho area in Noord-Portugal wat spesifiek gebruik word om port styl wyne (Duoro Vallei) en rooi Vino Verdhe (‘jong wyne’) van te maak. Souzão groei ook in Suid Afrika, Spanje, Australië en Kalifornië.

Oorsprong

Portugal

Ander Name

Souzão word ook Sousao of Souson gespel, maar meer korrek is Vinhao. In die Galicia gebied in Spanje waar Souzão gekultiveer word, word dit Tinta Pais genoem. In Suid Afrika is hierdie variëteit as Souzão geregistreer. Ander sinonieme sluit Tinto Nacional, Tinto Antigo, Tinto da Parada, Negrao, Negrao Pe de Perdiz, Espadeiro da Tinta, Espadeiro Basto, Espadeiro Preto en Pinta Femea in.

Produksie in Suid Afrika

Souzão is in die 1920’s na Suid Afrika gebring en daar is tans omtrent 44 hektaar van hierdie variëteit. Die grootste wingerde word in die Swartland (24ha) wynstreek gevind. Die oudste Souzão wingerde word op die plaas Allesverloren in die Riebeeck Vallei gevind en is in 1976 daar aangeplant. Hierdie wynplaas is bekend vir die gebruik van tradisionele portwyn kultivars in rooi wyne.

Groei

Souzão is ’n medium, regop groeier met ’n gemiddelde opbrengs potensiaal van 10 – 12 ton per hektaar. Sommige produseerders verkies om die opbrengs te beperk na 6 – 10 ton per hektaar. Dit gedy in vrugbare grond, groei maklik en kan hitte weerstaan.

Oestyd

Souzão neem lank om ryp te word en word gewoonlik laat mid-seisoen geoes, middel Februarie tot middel Maart. Dit word teen ’n suikervlak van omtrent 24 - 26°Balling geoes. Grade Balling dui die suikerinhoud in druiwe aan en of dit gereed is om te oes.

Druiwekorrels

Die blouswart korrels word kompak in silindriese trosse gedra en het ferm doppe met ’n dik waslaag. Beide doppe en sap voeg kleur by tot die wyne.

Blare

Souzão het mediumgroot, grysgroen blare wat drie tot vyflobbig is en geneig is om om te krul op die rande.

Siektes en Plae

Souzão het ’n bogemiddelde weerstand teen botritis, oïdium (witroes) en donsskimmel.

Gebruik

In Suid Afrika word Souzão in rooi versnitwyne gebruik, maar nie in port-styl wyne nie. Die grootste bydrae tot hierdie rooiwyne is die uitstekende kleur, donker en amper swart. Buiten alkohol en ’n natuurlike suurvlak voeg die Souzão druif ook intense geur by. Dit word nie aanbeveel dat hierdie wyn langer as 5 jaar verouder moet word nie.

Smaak

Geur komponente sluit geure soos wilde swartbessie, fennel, speserye en selfs leer in, maar sekere kenners beskryf Souzão as ‘grof’ met ’n rosyntjie ondertoon. Wyne van druiwe wat in warm gebiede groei het ’n konfyt smaak.Translated by Ananda Schoeman