Skielike Sterftes by Varke

©Glenneis Kriel
As jy met ander varkboere praat sal hulle jou vertel dat varke dikwels geen simptome van siekte toon nie. Skielike sterftes of ’n hoër sterftesyfer as normaalweg is baie keer die enigste aanduiding dat daar iets verkeerd is. Die probleem is dat daar verskeie redes kan wees waarom ’n vark skielik sonder enige duidelike oorsaak of vorige tekens van siekte sterf. Dit maak dit dus uiters belangrik dat die oorsaak van die dood, om verdere verliese te voorkom, geïdentifiseer word.
Die beste, veral as jy nog ’n beginner is, is om ’n veearts of dieregesondheid tegnikus te vra om die oorsaak van die dood te identifiseer deur ’n nadoodse ondersoek te doen of bloedmonsters te neem. Die hedendaagse tegnologie maak dit selfs moontlik om veeartse en dieregesondheid tegnici telefonies te raadpleeg en foto’s, wat met ’n diagnose kan help, aan te stuur.
’n Skielike sterfte by varke kan as gevolg van besering, trauma, hartversaking, Porcine Stress Syndrome, siekte of vergiftiging wees.

Hartversaking

Die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-Organisasie identifiseer in sy produksie handleiding, Pigs for Profit, hartversaking as een van die hoofoorsake van ’n skielike dood. Hartversaking, volgens hierdie handleiding, kom as gevolg van ’n hartafwyking in jong varkies of hartsiektes by ouer varke voor.

Porcine Stress Syndrome

Porcine Stress Syndrome is ’n genetiese afwyking wat veroorsaak dat varke skielik sterf. Dit gebeur as gevolg van hartversaking oor die onvermoë om fisiese stres soos oorbevolking, hitte-stres, vervoer of slagting te hanteer. Diere wat deur die sindroom geraak word is geneig om bleek, sagte en slegte vleis te ontwikkel wat ekonomiese verliese tot gevolg het. Om hierdie sindroom te voorkom moet boere teelvarke wat nie hierdie geen bevat nie bekom.

Siekte

Verskillende aansteeklike siektes en toestande kan tot ’n skielike dood lei, insluitend Klassieke en Afrika-varkgriep of bakteriese en virussiektes wat septisemie, akute longontsteking of diarree veroorsaak. Om verdere verliese te voorkom is dit noodsaaklik om ’n formele diagnose te kry en die oorsaak van die dood te identifiseer.
Die meeste siektes en kondisies kan voorkom word deur goeie higiëne en biosekuriteit maatreëls, ’n gesonde gebalanseerde dieet en om stres sover moontlik te beperk. Daar is entstowwe beskikbaar om sommige van hierdie siektes te voorkom, maar vir die beste resultate moet dit korrek gestoor en toegedien word. Raadpleeg ’n veearts of dieregesondheid tegnikus vir die korrekte behandeling van hierdie siektes. Dit wissel van antibiotika tot die uitwissing van siek varke indien geen behandeling bestaan nie.

Vergiftiging

Varke kan weens ’n oordosis medisyne, ’n giftige plant of iets toksies in hulle water of voer vergiftig word. Om die oorsaak van die vergiftiging te identifiseer word boere aangeraai om na die geskiedenis van die varke te kyk. Deur te identifiseer watter varke geraak is, veranderinge in hulle roetine, voer of water kan die oorsaak opgespoor word. Varke kan byvoorbeeld sterf weens ’n oordosis sout as hulle voer met ’n hoë natriuminhoud eet.
Die volgende toksiene wat met sterftes geassosieer kan word is geïdentifiseer: alge, sekere plante, sout, arseen, selenium, steenkoolteer, koper, etileenglikol, onkruiddoders, yster dextran, sekere insekdoders, ’n verkeerde dosis van sekere medisyne soos warfarien of giftige gasse soos koolstofmonoksied en waterstofsulfied.
Om ’n groot verlies te voorkom raadpleeg ’n veearts of dieregesondheid tegnikus om jou te help om die oorsaak van die dood te identifiseer.

Translated by Ananda Schoeman