Sagte Sitrusvariëteite in Suid-Afrika

©Louise Brodie

‘n Groot verskeidenheid sitrusvariëteite word in Suid-Afrika geplant. Hulle word rofweg verdeel in drie groepe: mandaryne, clementines en satsumas. Die keuse van variëteit word bepaal deur die markaanvraag en die geskiktheid van die variëteit vir die produksietoestande van ‘n plaas.

Mandaryne

Mandaryne en nartjies is tegnies dieselfde vrugte. Die verskil in benaming word bepaal deur die plek van oorsprong. Mandaryne verwys na sagte sitrus wat waarskynlik ontwikkel is in die suid-weste van China, terwyl nartjies (tangerines) waarskynlik ontwikkel het in Tangiers, ‘n stad in Marokko.

Daar word geglo dat mandaryne afstam van wilde lemoene wat meer as 3 000 jaar gelede in die noord-ooste van Indië gegroei het. Van daar het die sitrus hul weg gevind na China en van daar na Europa en Noord-Afrika.

In 2017 was mandaryne die mees-geplante sagte sitrus en het amper 75% van die totale area onder produksie beslaan. Terwyl ‘n groot reeks mandarynvariëteite geplant word, is Nardorcott die gewildste, met meer as 37% van alle aanplantings. Nova maak 19% en Tango ongeveer 12% uit van die totale area onder produksie.

Nardocott is meer as veertig jaar gelede ontwikkel uit Murcott saailinge op ‘n eksperimentele stasie in Marokko. Die kwekers het besef dat die saailinge hul voortplantings vermoë sal verloor as hulle nie bestuif word nie. Hierdie variëteit is hoog in aanvraag omdat dit feitlik pitloos is en van hoogstaande eetkwaliteit is, met baie suiker en ‘n intense geur.

Die variëteit is onder plantkwekersregte, met die Nardorcott Protection Company in Marokko wat kultivarregte in die Noordelike Halfrond bestuur, en Citrogold in Suid-Afrika wat dit in die Suidelike Halfrond bestuur. Die beste Suid-Afrikaanse Nardorcottvrugte word verkoop onder die ClemenGold© naam. Die vrugte word vanaf mid-Junie tot mid-Augustus ge-oes.

Nova is ‘n hibried wat ontwikkel is uit die clementine mandaryn en die olando tangelo. Dit bevat matig tot geen pitte nie, en word vanaf Mei tot Junie ge-oes.

Clementines

©Louise Brodie

Daar word vermoed dat die clementine ontwikkel het uit ‘n toevallige hibried van mandaryn saailinge. Aanvanklik is daar gedink dat die mutasie ontdek is deur ‘n Franse sendeling, Clement Rodier, in die tuin van ‘n weeshuis in Algerië. Maar later het ‘n tweede teorie ontstaan waarvolgens die sitrus ‘n oriëntale oorsprong sou gehad het omdat dit feitlik identies was aan Kantonese mandaryne wat dwarsoor China gekweek is.

In 2017 het clementines rofweg 17% van die totale area onder sagte sitrus in Suid-Afrika beslaan. Baie verskillende variëteite word geplant, maar produksie word gedomineer deur Nules, wat meer as 37% van die totale area onder produksie uitmaak. Die variëteit is ontdek in 1953 naby die dorp Nules in Spanje. Die vrugte word vanaf April tot Junie ge-oes.

Esbal, die tweede gewildste variëteit, verteenwoordig 7% van alle aanplantings.

Satsumas

Satsumas dra klein tot medium-grootte vrugte wat lyk na ‘n platgedrukte sfeer. Hulle het soms ‘n effense nekkie, het feitlik geen saad nie en het segmente wat maklik geskei kan word. In Suid-Afrika staan hulle ook bekend as nartjies.

Satsumas kom vermoedelik vanaf China, maar is vernoem na ‘n area in die weste van Japan, waar hulle vir die eerste keer opgemerk is.

In 2017 het satsumas ongeveer 9% van die totale area onder sagte sitrus uitgemaak. Hoewel ‘n reeks variëteite geplant word, is die gewildste Miho Wase. Hierdie variëteit, wat vroeg ryp word, het meer as 75% van die totale area onder produksie uitgemaak in 2017. Die variëteit is in die 1960’s geregistreer, en is ontwikkel uit die Miyagawa Wase satsuma. Dit is glad nie so ‘n groot kommersiële sukses in Japan as wat dit in Suid-Afrika is nie.

Translated by Elna Van Rhyn

Soft Citrus Production

Globale produksie van sagte sitrus het toegeneem van 26 miljoen ton gedurende die 2013/2015 seisoen tot 30 ton gedurende die 2018 seisoen....more