Produksie van Olyfolie

© SA Olive

Suid-Afrika produseer hoë kwaliteit, maar relatiewe lae volumes olyfolie, skaars genoeg om aan ‘n derde van eie behoefte te voorsien. Tog kry Suid-Afrika dit reg om olyfolie uit te voer, hoofsaaklik na lande in Afrika soos Namibië (300 ton) en Botswana (200 ton), maar ook 50 ton na die VK (2017 syfers).

Olyfolieproduksiegebiede

Volgens ‘n Hortgro verslag is daar 2 849 ha olywe in Suid-Afrika geplant. Dit dui op ‘n toename van 110% in aanplantings oor tien jaar vanaf 2008 toe slegs 1 357 ha geplant is. Die grootste toename in aanplantings is in die Kaapstad distrik waar nuwe aanplantings toegeneem het met 640% - van 56 hektaar in 2012 tot 414 hektaar in 2018.

Die produksie van olyfolie in Suid-Afrika is gekonsentreer in die Wes-Kaap met 93%, terwyl ander provinsies, KwaZulu-Natal uitgesonder, tussen 1% en 3% elk bydra tot Suid-Afrika se totale olyfolieproduksie. 

In 2018 was daar net meer as 170 geregistreerde olyfprodusente in Suid-Afrika. Byna die helfte van hulle boer op minder as 5 ha. Die 11 grootste produsente boer egter op meer as 50 ha elk. Hierdie produsente lewer in total 44% van Suid-Afrika se olywe.

Olyfoestyd in Suid-Afrika strek vanaf Maart tot Junie/Julie. Olies word onttrek en teen Augustus/September is die jaar se oes van vars olyfolie beskikbaar.

Wêreldproduksie van Olyfolie

Die wêreld se hoofprodusente van olyfolie is geleë rondom die Mediterreense see en in die Midde-Ooste. Onder die top-tien produsente is Spanje, Italië, Griekeland, Turkye, Sirië, Tunisië, Marokko, Algerië en Portugal.

Volgens die International Olive Council (IOC) is die verwagting dat die globale olyfolieproduksie met 5.5% sal afneem tot 3.130 miljoen ton in die 2018/19 seisoen.

Lande wat ‘n groot vermindering van meer as 50% van hul produksie ervaar het, is Tunisië en Argentinië. Ander lande wat ‘n baie groot vermindering in produksie beleef het, is Griekeland (35%), en Turkye (30%). In Italië het swak weer 25 miljoen bome beskadig, wat gelei het tot ‘n 38% verlaging in produksie. Ten spyte hiervan bly Italië die tweede grootste produsent van olyfolie, ná Spanje.

Die wêreld se grootste invoerder van olyfolie is die VSA wat tussen 35% en 40% van die wêreldproduksie van olyfolie invoer, hoewel die land ‘n lae per capita verbruik van slegs 1.3 liter/persoon per jaar het. Die wêreld se grootste verbruikers van olyfolie is die Grieke met 20 liter/persoon per jaar, Spanjaarde met 13 liter/persoon en die Italianers met 11 liter/persoon.

Olyfolie Invoere

Volgens Hortgro se statistiek het Suid-Afrika ongeveer 6 900 ton olyfolie in 2017 ingevoer. Ongeveer 70% was van Spanje en 19% uit Italië. Invoere uit Argentinië lyk asof dit besig is om toe te neem sedert 2015, maar dra steeds slegs 2% by tot Suid-Afrika se totale olyfolie-invoere.

Translated by Elna Van Rhyn