Die Plant van Lemoenpampoentjies
Kweek
Lemoenpampoentjies word van saad gekweek.
Plantmetode
Direkte lemoenpampoentjieaanplantings deur middel van saad kan deur ‘n meganiese planter gedoen word op groter lande, of met die hand op kleiner stukkies grond. Saailinge wat tydens die laaste dae van die winter in kweekhuise gekweek word, kan in die lande geplant word sodra die weer geskik is. Die plant van saailinge kan die oestyd van lemoenpampoentjies met 2 tot 3 weke vervroeg en vir die boer tyd spaar.
Spasiëring
Lemoenpampoentjieplantjies moet 50 cm uitmekaar geplant word in rye wat 120 cm uitmekaar is. Dit is ongeveer 16 000 plantjies per hektaar. Sommige van die meer kompakte variëteite word nader aan mekaar geplant met ‘n plantdigtheid van 20 000 plantjies per hektaar.
Saaityd en Planttyd
Die beste tyd is wanneer die grond begin warmer word in die lente en die gevaar van ryp verby is. Dis gewoonlik teen die einde van Augustus of aan die begin van September. Lemoenpampoentjies kan tot so laat as die einde van Februarie geplant word, solank die weer reg is. Hulle is al tot in die wintermaande in rypvrye areas geplant en geoes.
Groeitydperk
Lemoenpampoentjies neem tussen 10 en 12 weke vir die eerste pampoentjies om reg te wees om geoes te word. Babapampoentjies kan al teen 6 weke nadat hulle geplant is, geoes word.
Bemesting
Die eerste kunsmis word voor aanplanting toegedien in die bogrond van die plantarea. Afhangende van die resultaat van die grondontleding, kan ‘n gemiddeld van 600 kg 2:3:2 (30) per hektaar toegedien word. Dit is onmiddellik beskikbaar vir die saailinge en sal aanvanklike groei en wortelontwikkeling stimuleer. Ongeveer 4 weke nadat die plantjies geplant is en goed groei, kan 350 kg 2:3:4 (30) per hektaar op die plantrye gestrooi en besproei word.
‘n Derde toediening van stikstof kan nodig wees indien die plantjies nie na wense groei nie, en dit benodig. Ongeveer 250 tot 400 kg per hektaar LAN (28) sal normaalweg voldoende wees. Indien drupbesproeiing gebruik word, kan die ekwivalent in vloeibare kunsmis toegedien word.
Besproeiing
‘n Gemiddeld van tussen 30 mm en 40 mm besproeiing tydens die groeiseisoen behoort genoeg te wees. Dit moet vermeerder of verminder word na gelang van die weerstoestande. Dis die beste om drupbesproeiing te gebruik omdat dit die blare droog en gesond hou en verdamping tot die minimum beperk. Kunsmis wat direk by die wortelsone toegedien word, is ook meer effektief.
Sorg moet gedra word dat lemoenpampoentjies nie te nat gemaak word nie aangesien die plant kwesbaar is vir wortelsiektes as wortelsones in die water staan. As sprinkelbesproeiing gebruik word, moet daar gepoog word om die blare droog te hê voor die son sak om te verhinder dat fungusinfeksies uitbreek. Dis ook raadsaam om die grondvog konstant te monitor en die effektiefste metode hiervoor is om grondvogmeters te installeer.
Translated by Elna Van Rhyn