Lemoenpampoentjie Algemeen

© Louise Brodie
Wetenskaplike naam: Cucurbita Pepo
Algemene naam: Lemoenpampoentjie/Botterskorie
Lemoenpampoentjie het ontstaan in Sentraal Amerika.

Plantbeskrywing

Die lemoenpampoentjie is ‘n rankende cucurbit wat klein, donkergroen, ronde vrugte van ongeveer 80 tot 100 mm in deursnee dra. Die plant dra beide manlike en vroulike blomme en die vernaamste bestuiwers is bye. Dis daarom raadsaam om te belê in byekorwe in of naby die lande. ‘n Gesonde bybevolking verseker dat bestuiwing goed en betyds gedoen word. Die plant het ‘n penwortel wat tot 60 cm diep kan groei, hoewel die meeste van die wortels in die boonste 20 tot 30 cm bogrond gevind word en dis hierdie vlak wortels wat al die werk doen om water en voedingstowwe na die plant te bring wat uiteindelik tot die dra van die vrugte lei. Sade word in ‘n holte in die middel van die vrugte gevorm.

Gebruike

Lemoenpampoentjies word gekook en die geel vlees word as ‘n groente geëet. Hulle word ook as babagroente gekweek en dan heel geëet.

Grondvereistes en Voorbereiding

Skorsies vereis sanderige leemgrond wat goed dreineer. Die pH van die grond moet tussen 6 en 7 wees. Die organiese inhoud van die grond moet bo-gemiddeld wees. Dis raadsaam om kompos of mis in die grond in te werk.
Voordat die grond voorberei word om te plant, moet die kweker eers verteenwoordigende grondmonsters neem van die deursneegebied waarop geplant gaan word. Hierdie monsters moet ontleed word deur ‘n betroubare laboratorium sodat daar bepaal kan word wat die voedingstofbehoeftes van die grond is. In die voorbereiding van die grond is dit goed om die grond los te maak deur dit te ploeg sodat obstruksies in die grondprofiel opgebreek kan word tot ongeveer 600 mm tot 800 mm. Dit sal bydra tot goeie dreinering van die grond en ‘n gesonde wortelsisteem verseker.
Ongeveer 5 tot 6 weke voordat daar geplant word moet die voedingstowwe volgens die grondontleding toegedien word. Dit mag kalk wees om die pH reg te stel of kompos en super-fosfaat. Om dit in die grond in te werk, moet die grond 450 mm diep omgeploeg word. Dit sal terselfdertyd oes-en onkruidreste inploeg in die grond en die voedingstowwe en organiese materiaal kans gee om deel te word van die grond.
‘n Week voordat daar geplant word kan die spoorelemente en ‘n voor-plantbemestingstof toegedien word en met ‘n skottel-eg of rotavator in die boonste 20 cm van die grond ingewerk word sodat die bogrond gereed is vir die plant van die saad of saailinge.
Die saadbeddings word getrek en plastiek of ‘n organiese deklaag word neergelê om te help met onkruid, en vogverliesbeheer.

Klimaat

Lemoenpampoentjies is ‘n warm-klimaatgewas en word in Suid-Afrika meestal in die lente en somer geplant. Dit kan egter heeljaar geplant word as die temperature nie te laag is nie en daar geen ryp is nie. Dis nie rypbestand nie. Ontkieming van lemoenpampoentjiesaad geskied sodra die temperatuur hoër as 16°C+ is, hoewel meer eenvormige ontkieming geskied by grondtemperature nader aan 20°C.
Die beste groei en vrugvormende temperature is tussen 20°C en 28°C. Die plant benodig relatief min water en kan onder droëland omstandighede gekweek word as reënval konstant is. Die beste oeste word egter behaal wanneer plante besproei word.

Kultivars

Daar is baie nuwe hebriede sade wat gekweek is, so wanneer daar oorweeg word om in ‘n lemoenpampoentjie-oes te belê, is dit die beste om raad te vra by 'n landboukundige of saadspesialis.
Van die gewilde variëteite is Gemini, Rolet en Smarag.

Translated by Elna Van Rhyn