Die olyfoliebedryf is steeds baie klein en kan slegs voorsien aan ongeveer ‘n derde van Suid-Afrika se behoeftes, maar ons voer tog ‘n bietjie uit na buurlande.
Olywe word met die hand ge-oes en gepars met modern tegnieke. Baie van Suid-Afrika se olyfolieprodusente maak ‘boetiekstyl’ premium produkte, meestal “extra virgin” gehalte.
Alhoewel daar honderde variëteite olyfbome is, word olyfvariëteite vir tafelolywe of om olie te maak geselekteer volgens hul drag, olie-inhoud, olyfgrootte en smaak, tyd wanneer hulle ryp word, en ander faktore.
Olyfvariëteite wat in Suid-Afrika vir olie gebruik word, sluit in Frantoio (747 ha), Coratina (276 ha – aanplantings het toegeneem met 56% vanaf 2012 tot 2018) en FS18 waarvan die aanplantings ook toegeneem het met 35% tot 231 hektaar tydens dieselfde periode.
Aanplantings van Suid-Afrika se vernaamste variëteit, Frantoio, het afgeneem met 15% terwyl baie nuwe kultivars aangeplant word, ofskoon slegs ‘n paar hektaar van elk. Nuwe’ olyfolievariëteite in Suid-Afrika (wat vanaf 2012 aangeplant word) sluit in Picual (78 ha), Arbequina (54 ha), en Koroneiki (52 ha).
Variëteite het elk ‘n unieke geurprofiel en chemiese kenmerke. Olies van verskillende variëteite word dikwels gemeng om ‘n spesifieke geurprofiel te verkry. Byvoorbeeld, vrugtig Arbequina word gebruik vir sy neuterige, botterige aromatiese geur, met ‘n suggestie van appel en artisjok en het lae vlakke van bitterheid en speserygeure. In kontras daarmee is Frantoio meer aromaties, met groen ondertone en ‘n effense soet smaak wat eindig in nuanses van bitter en speserye. Ander olies wat verkies word vir gras-en peperige smake is Koroneiki en Manzanillo.
In Suid-Afrika is ingevoerde olyfolies dikwels goedkoper as Suid-Afrikaanse olies van dieselfde gehalte. Karien Bezuidenhout, bestuurder van SA Olive verduidelik dat produsente in die EU gebruik maak van masjiene om olywe te oes en ook regeringhulp ontvang, wat die prys van die produksie van hul olyfolie subsidieer.
Omdat olywe in Suid-Afrika met die hand ge-oes word, veroorsaak dit ‘n styging in produksiekoste. Dis belangrik om te onthou dat olie wat ingevoer is uit die EU of elders uit die Noordelike Halfrond (waar seisoene die teenoorgestelde is van dié in Suid-Afrika), in die ‘vorige’ seisoen geproduseer is, terwyl Suid-Afrikaanse olyfolies in die huidige seisoen geproduseer is en dus varser is.
Translated by Elna Van Rhyn