Oes en Verwerking van Granate

© Marinda Louw
Granate kan heel, as vars vrugte, of verwerk as granaatpitte, -sap of granaatpitolie bemark word.
Vir uitvoer word granate meestal verpak as heelvrugte in 3,8 kg (Klas 1 en 2), of 15 kg kartonne (vir prosessering). Die vrugte word verpak in swart pulp trays binne-in ‘n StePac sak en dan in die karton gepak.

Plaaslike verbruik sluit in die verkoop van heel vrugte, pitte (gewild in slaaie en Midde-oosterse-styl geregte), granaatpitolie of ‘n anti-oksidantryke sap.

Kwaliteitsgraderings sluit in ‘Ekstra’ (voorheen Klas I), Klas I (voorheen Klas II), Klas III (meestal sonverbrande vrugte, geskik vir prosessering as pitte) en ‘Klas IV’ (versappingskwaliteit).

Oes van Granate

©Marinda Louw
Weens die feit dat granate in drie sarsies blom, word die vrugte ook in sarsies ryp en word dus in drie sarsies gepluk. Granate is maklik om te oes en as snoei en opleiwerk korrek gedoen is, behoort lere minimaal benodig te word.

Vrugte word met snoeiskêre so na as moontlik aan die vrug geknip om skerp punte te voorkom wat kan steek en velskade veroorsaak. Vrugte word gesorteer en in trays of bins gepak en moet versigtig hanteer word om kneusing te verhoed.

Granaatkultivars word verskillend ryp. Byvoorbeeld, ‘Wonderful’ sal eers binne ryp word. Hoewel die pitte soet sal wees, sal die skil nog groen wees. Die kultivars ‘Acco’ en ‘Angel Red’ sal weer buitekant eerste ryp word. Ten spye van hul rooi skille, is hul pitte nog nie soet nie. Toets die suikerinhoud voordat daar begin pluk word.

Oesgereedheid by granate word bepaal deur die suikerinhoud en die kleur van die vrugte (skille en pitte). Tans word ‘n rypheidsindikator van 14° Brix (suikermaat) deur SAPEX, Suid-Afrikaanse vrugte uitvoerder, aanvaar. Aanbevole suikervlakke vir kultivars ‘Wonderful’ en ‘Herskovitz’ 16° Brix en vir ‘Acco’ 14° Brix (minimum 13° Brix).

Hantering van Granate nadat hulle Geoes is

South Africa’s Perishable Products Export Control Board (PPECB) verduidelik dat granate nie-klimakteriese vrugte is. Dit beteken dat hulle nie aanhou ryp word nadat hulle gepluk is nie. Daarom moet granate alleenlik gepluk word wanneer hulle volkome ryp is.

Vrugte moet gewas word met ‘n HACCP-kwaliteit chloor of anti- fungus agent, afgespoel met water en gesorteer word volgens kwaliteitskriteria soos krake, teenwoordigheid van insekte, vrot, kleur, grootte en gewig. Granate moet in verkoeling geberg word so gou moontlik nadat hulle gepluk is. Die beste verkoeling is 6 – 8°C vir uitvoervrugte.

Granate kan tot 6 weke geberg word onder normale verkoeling en tot 5 maande onder gekontroleerde atmosferiese toestande volgens die PPECB. Die optimale CA bergingstoestande vir granate is 3% O2 en 6% CO2 teen 5°C.

Verkoelingskade (chilling injury) veroorsaak dat die vliese en die pitte bruin word en maak ook bruin merke op die skil. Veral vrugte met ‘n lae suikerinhoud is kwesbaar vir verkoelingskade. ‘Suiker is die granaat se anti-vriesmiddel,’ sê Jorrie Mulder, tegniese raadgewer van die Pomegranate Producers Association of South Africa (POMASA).

Granate is baie sensitief vir vogverlies en om verkleuring en inkrimping te verhoed, word dit aanbeveel dat hulle in was gedoop en spesiale plastieksakke gebruik word.

Versapping van Granate

©Marinda Louw
Helderrooi granaatsap bevat polyphenols (potent antioxidants) wat inflammasie van die ingewande kan verminder. Dit het meer antioksidante as rooiwyn en groentee en een bediening van granaatsap verskaf meer as 40% van ‘n mens se daaglikse vitamiene C behoeftes.

Om ‘n kultivar vir versapping te kies, moet voorkeure ten opsigte van kleur, antioksidantinhoud sowel as saplewering in gedagte gehou word. Om die saplewering as % sap te bepaal = (sap gewig x 100) verdeel deur heelvruggewig. In Suid-Afrika is ‘Wonderful’ die beste variëteit vir versapping.

Granate kan moeilik wees om af te skil en die sap kan klere vlek. Om by die huis te skil en te versap, moet die blomkelk eers afgesny word en die blootgestelde oppervlak in kwarte verdeel word. Plaas die vrug in ‘n emmer vol water, breek oop op die snymerke en verwyder die arullus met ‘n rolbeweging van jou duim. Die pitte sal na die bodem daal, terwyl die skil, vliese en beskadigde sade na die oppervlakte sal kom.

By die huis kan versapping gedoen word deur bloot die pitte in kaasdoek (of ‘n skoon vadoek) plat te druk, of deur gebruik te maak van ‘n elektriese versapper. Syg deur om die saadjies te verwyder en verkoel onmiddellik. Kommersiële granaatsapproduksie mag filtrering, suiwering en pasteurisasie van die sap insluit voordat dit gebotteleer word.

Granaatpitolie

Die droë en skoongemaakte wit sade bevat ongeveer 18% olie. Granaatpitolie word gekarakteriseer deur die teenwoordigheid van hoë konsentrasies van punicic suur wat antioksidant en anti-inflammatoriese eienskappe bevat wat vrye radikale beveg en velveroudering verlangsaam. Punicic suur is ook ‘n natuurlike plant-gebaseerde estrogeen (vroulike geslagshormoon). Die olie is ryk in rare omega-5 essensiële vetsure (‘n baie kragtige anti-oksidant) wat beskadigde selle help herstel en het positiewe resultate getoon in vroue wat ly aan endometriose.

Granaatpitolie word in skoonheidsprodukte gebruik en kan ook aangewend word op die vel om ekseem te behandel en om droë vel te bevogtig.

Die olie word koud ekstraheer uit die granaat marc wat sade en vliese bevat.

Translated by Elna Van Rhyn