Nebbiolo

Naam

Nebbiolo grapes in South Africa.
Nebbiolo

Beskrywing

Nebbiolo is ’n rooiwyn variëteit wat geassosieer word met van die wêreld se beste verouderde wyne. Die naam kom blykbaar van die Italiaanse woord ‘nebula’ wat mis beteken. Dit kan wees omdat die druif vroeg in die herfs ryp word as dit begin mistig word in Italië.

’n Ander rede hiervoor kan wees dat die naam verwys na die wit mistige lagie wat op die korrels verskyn sodra dit ryp word. Nebbiolo kan moontlik van die ander Italiaanse variëteit Freisa kom of verwant wees aan Viognier.

Oorsprong

Volgens DNA analise kom Nebbiolo van Piedmont of die Valtellina area in noordwes Italië. Dit is een van die oudste variëteite wat in Italië groei en is al in die 13de eeu in die Staatsargiewe van Torino opgeteken. Daar word beweer dat Nebbiolo die Spiona variëteit is waarna Plinius die ouere in AD 1 in sy boek Naturalis Historiae verwys.

Piedmont het oor die jare ’n reputasie opgebou vir sy Barolo en Barbaresco wyne, wat uitsluitlik gemaak is van Nebbiolo-druiwe wat in sekere dorpe in die streek groei.

Gedurende die 15de eeu was Nebbiolo so hoog aangeslaan in die Barolo gebied (toe bekend as La Morra) dat jy gehang of jou regterhand afgekap kon word as jy een van die wingerdstokke beskadig of afsny.

In Italië is daar oor die jare na Barolo en Barbaresco verwys as ‘die wyn van die konings en die koning van wyne’. In die verlede is die wyne te vroeg gedrink, maar ’n goeie Barolo wyn moet vir ten minste twaalf jaar verouder word om sy volle potensiaal te bereik. Dit is ’n baie moeilike wyn om te produseer.

Sommige mense is van die opinie dat Nebbiolo-produksie slegs deur wynmakers gepoog moet word, wat die kuns van die net so uitdagende Pinot Noir bemeester het.

Ander name

Hierdie varieteit is ook bekend as Chiavennasca, Picutener, Spanna of Nibeul.

Produksie in Suid-Afrika

Die eerste kloon is in 1910 deur Professor Abraham Izak Perold na Suid-Afrika ingevoer. Meer belowende klone is tussen 1990 en 1995 deur Vititec ingevoer. Die eerste Nebbiolo enkel variëteitswyn is in 1990 deur Steenberg Vineyards in Constantia geproduseer.

Produksie streke

Nebbiolo in Suid-Afrika is nie baie gewild nie, met minder as 25 hektaar in 2016 onder produksie. Die meeste van hierdie wingerde is geleë in die Breedekloof, Stellenbosch en die Kaapse suidkus, terwyl die Paarl, Klein-Karoo en Noord Kaap ook klein areas onder produksie het.

Groei

Nebbiolo gedy onder koel klimaatstoestande en is ’n sterk groeier. Die opbrengs potensiaal is 12 – 18 ton per hektaar.

Oestyd

Dit word vroeg mid-seisoen ryp, vanaf die eerste helfte van Februarie.

Druiwekorrels

Nebbiolo het mediumgroot, ronde tot ovaal korrels met ’n rooi violet kleur wat swart word as dit heeltemal ryp is. Die dop is dun en taai en die vleis vrugtig en sappig.

Blare

Nebbiolo blare is klein tot mediumgroot, donkergroen, rond tot effens langwerpig en vyflobbig.

Siektes en plae

Nebbiolo is vatbaar vir witroes en donsskimmel asook geneig tot sonskade. Reën gedurende die oestyd kan botritis veroorsaak.

Gebruik

Die klein hoeveelhede wat in Suid Afrika geproduseer word, word as ’n enkel variëteitswyn of versnitwyn gebruik.

Smaak

Nebbiolo is een van die min variëteite wat volgens kleur geïdentifiseer kan word, die swarterige robynrooi wyn veroorsaak ’n oranje skynsel op die rand van die glas. Die klone wat in Suid Afrika beskikbaar is, het ’n sterk vrugtige en bessie smaak.