Nastergal vir Blare en Konfyt
Nastergal (Solanum retroflexum) is ‘n eenjarige, kruidagtige plant wat oorspronklik van Suid-Afrika af kom. Dit staan ook bekend as sunberry, Umsobo, muxe, umsobo wesinja, umosobosobo en linstsontso. Hoewel dit beskou word as ‘onkruid’ deur sommige mense, kom dit dikwels voor in grond wat ryk is aan stikstof en word beskou as ‘n belangrike groen blaargroente wat op menige werf in Suid-Afrika gekweek word.
Daar is baie ander ‘Solanums’ in die familie, veral Solanum nigrum (gewone nastergal/nagskade/poisonberry), Solanum tuberosum (aartappel) en Solanum lycopersicum (tamaties).
Nastergal bestaan uit baie spesies en die taksonomie daarvan is ingewikkeld.
In Suid-Afrika word die spesies S. americanum, S. nigrum en S. retroflexum die meeste gebruik.
Nastergal word tot 75 cm hoog en maak ‘n ronde bos met perserige stamme en grys-groen blare. Die blomme is eenvoudig met wit blomblare en geel in die middel en die bessies is groen en verander in dof pers-swart wanneer hulle ryp word. Die bessies, vars blare en sagte lote kan geëet word. Moenie die Solanum retroflexum se bessies verwar met dié van die inkbos (Atropa belladonna) nie. Die bessies van die inkbos is blink en die blomme is pers, nie wit nie.
Hoe om Nastergal te Kweek
Dis maklik om nastergal te kweek van saad en dit dan te verplant as saailinge. Die kweek van nastergal deur middel van saailinge kan ‘n opbrengs van 1.2 kg/m² lewer. Dit kan in die meeste soorte grond geplant word, maar verkies klam grond. Dit sal nie in die skaduwee groei nie.
Navorsing het getoon dat nastergal stikstof (N) en fosfor (P) benodig. Dit kan in die vorm van chemiese bemesting soos 2: 3: 2 of 3: 2: 1 toegedien word teen 40 g/m. ‘n Normale grootte teekoppie kan ongeveer 200 g kunsmis hou wat 5 m behoort te dek. Strooi kunsmis in die voor en meng dit met grond voordat jy saailinge plant. Die Departement Landbou, Bosbou en Visserye beveel die volgende aan: as jy pluimvee- of varkmis gebruik, dien dit toe met ‘n 10 liter emmer oor ‘n 20 cm breë strook wat 15 m lank is. Dieselfde hoeveelheid kraalmis moet vir ‘n area van 5 m in lengte gebruik word.
Nadat die beddings gesaai is, moet dit bedek word met ‘n deklaag soos droë gras om vogtigheid te behou. Alhoewel nastergal droogtebestand is, het dit tog water nodig om die opbrengs te verhoog – ten minste 4 liter per 1 m².
Peste van nastergal soos miere, plantluise, ruspes, springkane en kewers word beheer deur gewasrotasie of ‘n fyn lagie houtas op die blare. Kies plantpasmaats soos uie en knoffel wat natuurlike afweerders van vlooikewers/erdvlooie is.
Nastergal is sensitief vir roes/skimmel/heuningdou, virusse soos krulblaar, yellow vein, sowel as grey mould en witroes. Optimale groeitoestande en goeie grond kan help om siektes te verminder.
‘n Praktiese Voorbeeld van die Aanplant van Nastergal
Ongeveer 2 ha nastergal is kommersieel aangeplant op ‘n plaas tussen Memel en Newcastle. Saailinge is teen die einde van Oktober geplant in beddings van twee rye elk. Beddings was 5 cm uitmekaar om meganiese onkruidverwydering toe te laat. Elke ry het drupbesproeiing gehad en is bedek met plastiek waarin daar gate was vir die saailinge. Om die bessie-oestyd te verleng is saailinge met drie weke intervalle geplant. Die opbrengs was ongeveer 1.5 t/ha, maar nader spasiëring sou tot 2,5 ton bessies per hektaar kon lewer.
Plaaslike vroue het die bessies met die hand gepluk en is vergoed vir elke kilogram wat hule gepluk het. Die nastergalkonfyt is bemark as ‘Umsobo’, die Zoeloenaam vir nastergal.
Hoe om Nastergal te Eet
Die beste manier om nastergalblare te oes is om die hele loot af te sny, aangesien dit die plant stimuleer om weer uit te loop. Gereelde afsny van jong lote en uitbreek van die groeipunte stimuleer die groei van laterale lote en verleng die oesperiode.
Blare kan geoes word totdat die bessies begin ontwikkel. Daarna raak die blare leeragtig. As dit as ‘n blaargroente gebruik word, word die blare en jong lote van nastergal gepluk en gekook, maar die blare kan ook rou geëet word. Die gekookte blare word dikwels bedien as ‘n pikante sous of voorgereg.
Toksisiteit van die bessies is nie duidelik nie, maar die groen (onryp) bessies bevat solanien wat ‘n mate van vergiftiging veroorsaak. Bessies word met die hand gepluk wanneer hulle pers-swart is, gewoonlik van Januarie tot April. Die bessies moet sonder die blomkelk (buitenste harde kelkvormige ‘blare’ van die bessie) gepluk word, of dit moet verwyder word voordat die bessies gekook word. (Hou die bessie vas terwyl die blomkelk sywaarts afgebreek word.)
Die bessies kan rou of gekook geëet word, hoewel die geur verbeter deur die kookproses. Daar is bevind dat die vrugte baie lekkerder, hoewel kleiner as die byna soortgelyke Solanum nigrum var. guineense is, omdat dit soeter is. Daar word dikwels konfyt van die nastergal bessies gekook - ‘n rare lekkerny wat soms by plaasstalletjies verkoop word. Die bessies kan ook gebruik word as ‘n salsa of slaaisous: voeg fyngemaakte nastergalbessies by gesoteerde knoffel en uie, karwy-en sesamesade, olyfolie en balsamiese asyn. Gebruik saam met gesoteerde nastergalblare en rond af met fetakaas. As ‘n alternatief, smeer nastergal oor vis.
Medisinale Gebruike van Nastergal
Die blae kan as ‘n pap gebruik word in die behandeing van kankeragtige swere, wonde en leukoderma, (‘n toestand waarin die pigment uit sekere areas van die vel verlore gaan en wit kolle veroorsaak).
Navorsing het bevind dat Solanum nigrum anti-herpes eienskappe het; dit word gebruik om iemand te laat sweet, is ‘n pynstiller en ‘n kalmeermiddel, maar dis nie duidelik of Solanum retroflexum ook oor hierdie eienskappe beskik nie.
Let wel:
Die oes van wilde eetbare plante kan gevaarlik wees en behoort slegs deur ‘n ervare, kundige persoon gedoen te word. Onervare mense mag siek word en selfs sterf omdat hulle die verkeerde plante geëet het.
Mediese Vrywaring
Inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Die inligting is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.
Translated by Elna Van Rhyn