Wat is Manna?

Beskrywing en Oorsprong

Manna is ’n lang, droogtebestande gras wat tot 3 m hoog word. Dit het lang lemagtige blare, baie diep wortels en biesieagtige saadkoppe. Die diep wortelstelsel maak die plant baie droogtebestand aangesien dit water diep onder die grond uit kan bekom. Manna produseer graan vir menslike gebruik en die hele plant kan as veevoer gebruik word.
Daar word beweer dat manna se oorsprong 4 000 jaar gelede in die westelike areas van die Sahara woestyn in Afrika was. Dit is ook bekend as bulrush millet of pearl millet in Engels, leotsa in Sepedi, nyalothi in Sesotho, inyouti in isiNdebele, mhuga of mhungu in Shangaan en unyaluthi, unyawoti of unyawothi in isiZulu.
Manna is SAOG (Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) se derde belangrikste graan in terme van produksiegebied, 0.9 miljoen ha, met Namibië en Tanzanië elk verantwoordelik vir sowat 27%. Die wêreld se grootste manna produsent is Indië met omtrent 11 miljoen ton per jaar (2014). Dit word hoofsaaklik op ’n bestaansvlak in landelike Suider-Afrika in die warmer droë streke met onreëlmatige reënvalpatrone geproduseer.

Gebruike

Die afname in die verbouing van manna teenoor mielies is as gevolg van verskeie faktore: navorsingspogings maak mielies meer produktief as manna en maklike verwerking maak mielies makliker om te verbou. Dit het tot gevolg dat mielies dikwels in ongeskikte areas verbou word en dus nie gedy nie. Daarteenoor lewer manna ’n betroubare opbrengs in gebiede wat te warm en te droog is om konsekwent goeie opbrengste mielies (of selfs sorghum) te lewer.
Die indruk is dat manna hoofsaaklik ’n veevoer is en ongeskik is vir menslike gebruik buiten tydens hongersnood. Dit is egter nie waar nie. Manna is ’n veelsydige voedselbron wat ten minste 9% proteïene, ’n verskeidenheid aminosure en meer olie as mielies bevat. Dit is ook meer verteerbaar as sorghum aangesien dit nie tanniene, ’n bruin bitter substansie, bevat nie. Manna word as ’n volgraan soos rys gebruik, fyngemaak of as ’n meel in rotis, in gefermenteerde kosse, pap, koeskoes, drank en versnaperings.
Manna lewer ’n glutenvrye graankorrel wat hoog is in energie, maar ’n lae glukemiese indeks (lae GI) het. Dit is hoog in vet, proteïene, yster, sink en fosfor (P) wat baie belangrik is vir beengroei. Die korrels kan as ’n graan gekook word, gebruik word in bierbrouery of fyngemaak word vir meel. As ’n veevoer word die groen manna gebruik as kuilvoer, hooi of direkte weiding. Die korrels kan ook vir pluimvee gevoer word. Die droë plantmateriaal kan gebruik word om mandjies te vleg, vir grasdakke en om heinings van te maak.

Translated by Ananda Schoeman