Kan Mongongo Neut Haarverlies Voorkom?

© SAplants
Mongongo-bome (Schinziophyton rautanenii), ook bekend as manketti, word in suidelike Afrika aangetref en veral in die diep sandgrond van die Kalahari. Dit word reeds vir duisende jare deur plaaslike mense gebruik as kos en vir velversorging, as natuurlike sonskerm en haarsalf.
Dit bevat 'n unieke suur wat reageer met UV-lig om 'n nie-olierige beskermende laag op die vel en hare te vorm. Die saadolie is hoog in sink (Zn) en het beskermende eienskappe. Die pruimgrootte vrugte, ongeveer 3,5 cm lank, lyk soos fluweelagtige eiers en val van Maart tot Mei grond toe om ryp te word. Dit het harde dop en 'n dun laag eetbare vleis rondom die sade. Die vrugte word deur koedoes en olifante geëet, wat die 'skoongemaakte' saad in netjiese ‘hopies’ los.
Wanneer die vrugte met die hand geoes en skoongemaak moet word, moet die vlesige gedeelte van die vrugte skoongemaak en die dop gekraak word, voordat die olie uitgepers word. Die voedsame sade kan ook gerooster word en smaak soos amandels of kasjoeneute. Mongongo vrugte word wild-geoes (nog nie wyd kommersiëel aangeplant nie) en het 'n groot potensiaal vir olieproduksie, maar die olie-ekstraksie is arbeidsintensief en is een van die redes waarom die gebruik van mongongo beperk is.
Die neut het 'n proteïeninhoud van ongeveer 25%, 'n vetinhoud van 50% en 'n hoë vitamien E (tokoferol) inhoud van ongeveer 560 mg per 100 gm. Die olie het versepingseienskappe wat dit baie geskik maak vir die gebruik daarvan in seep. Die ryk mongongo-olie is bevogtigend en selvernuwend weens 'n hoë linoleïensuurinhoud (tussen 30% en 54%) en word gebruik in haarprodukte en vir velsorg - as 'n reiniger, bevogtiger en versagtende middel. Die hoë proteïen- en olie-inhoud maak mongongo-olie 'n uitstekende behandeling vir droë en krullerige hare en kan help om haarverlies te voorkom. Mongongo-olie kan as ‘n masseer-olie gebruik word vir droë skilferige vel en help wondgenesing deur selvernuwing te bevorder.

Mediese Vrywaring

Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes. Dit mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie, en is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Hazel Oliver