Ek het my man ontmoet toe ek in standerd vier was. Die eerste keer toe ons gepraat het was nie ‘n sukses nie. Ons was ‘n paar meisies wat tydens pouse ‘n studiesessie gehad het en ons was besig om hard te konsentreer op ons wiskundeboeke. ‘n Paar seuns het rondgeloop en ons probeer ontwrig.
Ek het op hulle geskreeu, ‘Al wil julle nie julle eksamens deurkom nie, ek wil, so gaan weg want ons is besig met ons boeke.’ Ek het vir een van hulle, Mzwandile Tutu, gesê dat hy te oud was vir die skool en dat hy vir sy ouers moet gaan werk. Ek het ‘n grappie gemaak, maar ek kon sien dat hy regtig kwaad was en my wou geklap het.
Later was ek spyt, want ek het besef dat die lewe ook nie vir hom goed was nie. Sy omstandighede was baie dieselfde as myne. Toe gaan ek na hom toe en sê dat ek jammer was. Hy het gesê dis niks, ‘Ek het julle nie regtig probeer ontwrig nie, ek het net gespeel.’ En to begin ek van hom hou. Hy was so ‘n aantreklike seun.
Ek het van Kaapstad af gekom en Kaapstadse seuns het geen respek vir andere nie, maar ek het gesien dat hy nie so was nie. Hy het baie respek gehad vir andere. Hy het daar naby gewerk en by ons huis verbygeloop op pad huis toe. Hy het begin grappies maak wanneer hy verbygeloop het.
My kop was plat bo-op, en toe begin hy my groet deur te sê, ‘Hallo, Juffrou Pannekoek.’ ‘Hoekom sê jy ek’s ‘n pannekoek? het ek verontwaardig gevra. ‘Pannekoeke is lekker,’ het hy gesê. ‘Ek hou van pannekoeke, dis waarom ek jou pannekoek noem.’ Toe skryf hy vir my ‘n brief en sê dat hy my liefhet.
Hy het dit vir my gegee terwyl ek saam met my vriendinne was. Ek het teruggeskryf en gesê dat ek hom ook liefhet, en dit was dit. Ons wou trou, maar hy moes eers vir twee jaar op die myne in Johannesburg gaan werk om die geld vir lobola bymekaar te maak. Ek het aan hom geskryf terwyl hy daar was, by Earthworks. Uiteindelik is ons in 1964 getroud. Ons was finaal bymekaar.
Ek het my man, my liefling, Zolile Edwin Mdaka, ontmoet terwyl my ma en ek nog in Bo-Konstitusiestraat in Distrik Ses gewoon het. Ek het soms na werk met Oranjestraat afgestap na die Dogtersvereniging van ons plaaslike kerk, en op een so ‘n dag het ‘n aantreklike man na my toe gekom en gevra, ‘Kan ek asseblief met jou praat?’ Hy het geglimlag, en wat ‘n aantreklike glimlag was dit nie!
Ek het onmiddellik besef dat dit moeilikheid kon beteken. ‘Jammer, ek is laat, ek moet gaan,’ het ek oor my skouer gesê terwyl ek my gehaas het na die byeenkoms. ‘Goed,’ het hy gesê, ‘miskien kan ons praat wanneer jy terugkom.’ Ek het aangehou om hom te ontmoedig, en hy het aangehou om met my te praat.
Soms sou hy saam met mey stap en oor koeitjies en kalfies gesels. Toe, eendag, verras hy my regtig. Ek was, na alles, net 19. ‘Alicia, ek het jou lief,’ het hy gesê. ‘En ek belowe jou, ek gaan nie met jou mors nie. Ek wil met jou trou.’ Dag na dag het hy my oor en oor verseker van sy liefde en lojaliteit.
Ek het begin om sy oë op my rug te voel sodra ek in die pad afstap, en het besef dat ek besig was om hierdie man diep lief te kry. Sy volharding het gewerk. Zolile het sy oudste broer gevra om met my ma te praat oor trou. En so is ons dan getroud, en ek moes my ma se huis verlaat en sonder haar leef. Maar die lewe het presies reg gevoel.
In daardie jare van my huwelik was ek baie gelukkig en Zolile het na my gekyk. As ek in die Oos-Kaap was sonder hom, het vir my geld en briewe gestuur en wou weet hoe dit met my en die kinders gaan, en of ons nie almal kon terugkom na hom toe nie. Hy het my regtig liefgehad. En hy was nie een vir skelmpies nie, net sy vrou.
Translated by Elna Van Rhyn