Helichrysum Olie

© Alice Notten of Kirstenbosch
Helichrysum essensiële olie word gedistilleer uit die aromatiese, bosagtige meerjarige kruie wat langs die kusstreke van Suid Afrika en in sommige bergagtige streke van die Vrystaat en Lesotho groei. Die Helichrysum genus het meer as 600 spesies waarvan daar meer as 240 in Suid Afrika groei. Ongeveer vyf word in Suid Afrika gebruik vir kommersiële essensiële olieproduksie. Die hoof drie variëteite is Helichrysum odoratissimum (word die meeste gebruik in Suid Afrika) H. splendidum (inheems aan Suid Afrika) and H. Italicum (die sade is oorspronklik van Italië af ingevoer). Dit word ‘imphepho’ in Xhosa en Zoeloe genoem en ‘kooigoed’ in Khoisan en Afrikaans.
Tradisioneel is kooigoed gebruik om voorouers op te roep, negatiewe energie uit kamers te neutraliseer of siekekamers te berook. Aangesien dit insekte afweer, is dit as beddegoed gebruik en dit help teen slaaploosheid. (Vandaar die verwysing na ‘kooigoed’.) Daar word beweer dat helichrysum olie spanning en hoofpyn verlig en gebruik kan word om hoes, verkoue en koors te behandel. Dit het kragtige antibakteriese en antivirale eienskappe, wat dit noodsaaklik in ’n noodhulpkissie maak om insekbyte en selfs spinnekop, skerpioen en slangbyte te behandel.
Helichrysum olie het anti-inflammatoriese eienskappe en is ideaal vir tendonitis, weefselpyn en rumatiek. Dit is ook antifungaal en antisepties en as gevolg van die vernuwende eienskappe kan dit help om littekens, dermatitis en aknee te genees. Die teen-veroudering eienskappe stimuleer sel verjonging, wat dit ’n ideale bestanddeel in velroom en sonskerms maak. As dit ingeasem word verlig dit brongiale kongestie en in aromaterapie help dit teen allergiese reaksies. Dit kan stres verlig en die senuweestelsel versterk.
Helichrysum groei van saad of steggies. Die klimaat bepaal die opbrengs. As die plante genoeg water kry kan dit twee keer per jaar geoes word - in die lente en weer in die herfs. Die blare, stingels en blomme word droog of vars gebruik en met stoomdistillasie word ’n liggeel en dun, byna waterige olie verkry. Die reuk is taamlik skerp, aards en kruidagtig. Helichrysum word in Clocolan in die Vrystaat wild geoes en gekweek. Dit groei ook noord van Gauteng, Baviaanskloof in die Oos-Kaap, Stellenbosch en Piketberg in die Wes-Kaap.

Mediese Vrywaring

Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Dit is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Ananda Schoeman