Groei van ’n Organiese Groentetuin

©Marinda Louw
Daar is drie gewilde metodes om organiese groente op ’n klein skaal te verbou. Al drie metodes verbeter die vrugbaarheid van die grond en help ook wanneer fondse, water en grond beperk is. Groente wat op hierdie wyse gekweek word sal gesonder wees as konvensioneel geproduseerde groente. Die drie tipes groentetuine is:
Slootbed – Grawe ’n sloot in die grond en vul dit op met organiese materiaal en grond. Dit is moontlik om dadelik in ’n bedding wat op hierdie manier voorberei is groente te plant.
Opvul bedding – In gebiede waar dit onmoontlik is om gate in die grond te maak, word ’n opvul bedding vir groente gebruik. Hierdie metode is ook geskik vir liggaamlik gestremde individue of ouer mense wat sukkel om te buk.
Houerplante – Plant groente in houers soos potte of motorbuitebande.

Hoe om ’n Slootbed Groentetuin te Maak

Die sloot moet 1 m breed, 2 m lank en ongeveer 50 cm diep (kniediep) wees. Wanneer u die sloot grawe, skei die bo- en ondergrond. Die bo-grond is meer vrugbaar en donkerder as die onderste grond. Grawe die beddings altyd van oos na wes. Dit verseker dat die plante gedurende die dag voldoende sonlig kry. As dit in ’n noord-suid rigting gemaak word, is daar te veel skaduwee. Maak seker dat die beddings gelyk is, met ’n effense helling om water afwaarts te laat vloei, maar nie te steil sodat dit erosie veroorsaak nie. As die area teen ’n steil helling (gradiënt) is, kan die beddings gemaak word om ’n “trap” effek te verkry. Hoe steiler die helling, hoe meer “trappe” kan gemaak word.
Vul die sloot halfvol met organiese materiaal - bv. tuinafval, groente skille, eierdoppe, eier-dose en selfs onkruid. Gebruik ook die mis van skape, beeste, bokke, hoenders, hase en varke, maar nie honde en katte nie. Moet ook nie rou vleis of vet gebruik nie.
Plaas growwe materiaal soos kleiner takkies, mieliestronke, strooi of droë gras onder. Dit verseker goeie lugvloei deur die sisteem.
Plaas ongeveer ses klein, geroeste en saamgeperste blikkies bo-op die growwe materiaal. Dit verskaf die baie klein hoeveelheid mikrovoedingstowwe soos sink (Zn) en yster (Fe) aan die plante.
Bedek die blikkies met ’n laag geskeurde koerantpapier of karton.
Gooi die res van die organiese materiaal oor.
Trap nou die materiaal goed vas en vul die sloot op met nog organiese materiaal as dit nie vol is nie.
Strooi ’n bietjie droë dieremis oor. Dit verskaf die bakterieë wat nodig is vir die ontbinding van die organiese materiaal om kompos te word.
Maak die materiaal deeglik met ’n tuinslang of emmer nat. Die klamheid sal ook met die ontbinding van die organiese materiaal help.
Bedek die organiese materiaal met grond uit die sloot. Dit sal slegte reuke en vlieë tydens die komposproses verhoed. Vul die sloot met die grond wat uitgehaal is – eers die onder-grond en dan die bo-grond. Moenie in die bedding trap nie.
Die gevulde sloot moet ongeveer 15 cm hoër wees as die grondoppervlak, maar aangesien die organiese materiaal ontbind en voedingstowwe deur die groente gebruik word, sal die hoogte van die sloot afneem.
Die slootbed metode is ’n goedkoop en effektiewe metode, produsente hoef nie voedingstowwe of kunsmis te koop nie. Omdat die gewas gesonder is, sal dit minder onder plae en siektes ly en die koste vir plaag beheer kan minimaal wees. Hierdie metode lewer ’n groter opbrengs en ’n hoër kwaliteit gewas omrede:
Die organiese materiaal wat onder in die sloot gebruik word, dien as ’n spons wat water opneem en dit soos benodig aan die plante vrystel.
Die organiese materiaal verander in kompos wat voordelige grond mikrobes tot gevolg het.
Dit bespaar geld op bemesting en plaagbestryding.
’n Inkomste kan verdien word deur die goeie kwaliteit groente te verkoop. Geld kan bespaar word deur groente te produseer vir huishoudelike verbruik in plaas van om dit te gaan koop.
Organiese afval word gebruik om die grond te bemes en die omgewing word skoner gehou.

Opvul Bedding Groentetuine

©Marinda Louw
Gebruik hierdie metode as jy nie gate kan grawe nie. Opvul bedding groentetuine is ideaal vir fisies gestremde individue of mense in rolstoele wat graag ’n groentetuin wil maak. Dit verskil van die slootbed metode deurdat organiese materiaal bo-op die bo-grond geplaas word om ’n hoër oppervlak as die omliggende grond te skep. Dit volg dieselfde metode as vir die slootbed groentetuin, maar begin by punt 2. Hierdie metode het dieselfde voordele as die slootbed metode. Dit bespaar water, voeg organiese materiaal by die grond en het ’n hoër opbrengs groente per area.

Groentetuine in Houers

©Marinda Louw
Met hierdie metode word houers met organiese materiaal gevul en ’n laag grond word bo-op die organiese materiaal gestrooi. Onthou om die organiese materiaal deeglik nat te maak voordat die grond daaroor gegooi word. Die mees algemeenste houers is motor of vragmotor buitebande en dit word meestal gebruik vir die groei van aartappels en geelwortels. Die metode kan aangepas word vir die tipe gewas deur 5 of 6 buitebande bo-op mekaar te stapel. Ongeveer 5 - 6 kg nuwe aartappels kan van een stel bande geoes word. Groot swart vullissakke en dromme kan ook gebruik word vir die aanplant van aartappels.
Houers gemaak van ou palette word ook gebruik, maar met verloop van tyd buig groot plastiek houers. Voer die houers uit met skadunet om dreinering aan te help en hou dit in ’n sonnige plek weg van koue en wind. Maak seker dat die houers swaar genoeg is om die gewig van top-swaar plante soos groenrissies, tamaties en eiervrug te weerstaan. Gooi ’n ligte deklaag soos gras of strooi bo-op die grond. Nuut ontkiemde saailinge kan steeds deur die deklaag groei terwyl dit help om vog te behou en onkruid te verminder.
Die meeste groente soos pampoen, ertjies, groenbone, spinasie, tamaties en uie kan maklik van saad gekweek word. As jy saad plant, moet dit nie te diep plant nie - plant die saad nie dieper as drie keer die wydte daarvan nie. Probeer om nie die wortels te versteur as saailinge geplant word nie. Gooi plante goed nat met planttyd en ten minste drie keer per week daarna, afhangende van die reënval. Party plante beskerm mekaar teen skade en help mekaar selfs groei.

Translated by Ananda Schoeman