Glutenvrye Misbredie

© Dwight Sipler
Misbredie ook bekend as varkbossie of hanekam is een van die Amaranthus spesies. In Engels word dit amaranth, pigweed, cockscomb of hell’s curse genoem. Dit is beide ’n algemene onkruid en antieke gewas. Tegnies gesproke is dit nie ’n graan nie, maar word as een gebruik. Misbredie word vir die vars blare en proteïenryke sade gebruik. Die sade word fyngemaal en as ’n glutenvrye meel gebruik. Dit is al sover terug as 6 700 v.C. deur die Asteke in Suid-Amerika genuttig. Die verskillende spesies het hulle oorsprong van verskillende lande, maar daar word beweer dat A. spinosus en A. thunbergia endemies is aan Afrika.
Misbredie is ’n vinnig groeiende jaarplant met bosagtige blomkoppe. Dit gedy in hoë temperature en kan tot 2 m hoog word. Daar is meer as 60 spesies en party word vir die sade en ander vir die eetbare blare verbou. Die saad en blare is vir menslike gebruik geskik, maar die hele plant kan as veevoer dien. Die groen tipes is minder bitter as die rooi spesies.
Die graan-misbredie spesies kan tussen 30 cm en 2 m hoog word, verskillende kleure blomme, blare en stingels hê, maar daar sal altyd pers en rooi teenwoordig wees. Die swart sade is baie klein, omtrent 3000 sade per gram. Die graan variëteite se sade is roomkleurig.

Misbredie Verbouing

©Glenneis Kriel
Misbredie word nie algemeen in Suid-Afrika verbou nie, maar word meestal in die natuur na die eerste reëns gepluk. Volgens Suid-Afrikaanse navorsing op misbredie verbouing wys dit ’n vars blaar opbrengs van 40 ton per hektaar. Die opbrengs van die graan variëteite verskil, maar 1 ton per hektaar word beskou as ’n goeie opbrengs.
Misbredie gedy in hoë temperature van bo 25°C in die somerreënval gebiede soos Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Noordwes. Dit is droogtebestand en verdra nie te nat grond nie. Misbredie plant met die saai van saad voort. Saai omtrent 270 kg saad per hektaar. Meng die saad teen ’n 1:2 verhouding met grond en saai dit omtrent 1 cm diep in rye. Die rye moet 1 m van mekaar af wees. In kleiner areas kan 1 m² grond met 1 emmer hoendermis of beesmis gemeng word.
Die misbredie groei stadig gedurende die eerste paar weke en kan deur onkruid oorgeneem word. Goeie onkruidbeheer kan ook ander probleme voorkom aangesien onkruid siektes en plae aanhelp. Organiese plaagbestryding middels soos Neem produkte kan help.
Die eerste oes van die misbredie-blare kan ’n opbrengs van 1 - 1.5 kg/m² hê en ’n voortdurende oes kan tot 30 kg/m² bemarkbare produk voortbring. Gereelde oes verhoog die kwaliteit en opbrengs van die blare. Die opbrengs verhoog ook as die grond ’n pH van omtrent 6.4 het, losgemaak is en genoeg kompos bevat. Stikstof is essensieel vir blaargroei en kommersiële produsente kan 6 ton per hektaar beesmis of kunsmis met ’n hoë stikstof inhoud gebruik.

Hoe om Misbredie te Oes

Die plant kan op twee maniere geoes word. Die hele plant kan as dit 20 cm lank is afgesny word of die blare kan gereeld met die hand geoes word. Verwyder die groeipunte en blomme om blaargroei te bevorder.
Die misbredie groei vinnig en dit kan 30 – 55 dae na saaityd geoes word. Die sade word geoes as die blare begin geel word. Om te verseker dat die sade heeltemal droog is, is dit raadsaam om die misbredie na ’n erge ryp of week van droogte te oes. Die saadkoppe word heel met die hand afgepluk. Die sade word dan op ’n stuk plastiek in die koelte gedroog en moet gesorteer word om die saad van die af te skei. Dit word dan sodra dit omtrent slegs 11% vog besit gegradeer en verpak.
Internasionaal word die misbredie in Indië, Sjina, Suidoos-Asië, Meksiko, die Verenigde State van Amerika en die Andes gebergtes kommersieel geproduseer. Hier word dit dan ook meganies geoes.

Translated by Ananda Schoeman