Geelwortel Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Voortplanting is deur saad en geelwortels kan nie uitgeplant word nie.

Hoe om te Plant

Geelwortelsaad word direk in die bedding op ’n rif gesaai. Om die saad in rye te plant is beter as om dit te strooi. Die saaidiepte is 25 - 40 mm in los grond. In grond met ’n swaarder tekstuur en by plekke met kouer wintermaande moet die diepte 10 - 15 mm wees. ’n Effens dieper aanplanting word aanbeveel in die somer wanneer die grond vinnig uitdroog. Saai in klam grond en hou die grond vogtig.

Spasiëring

Saad moet tussen 20 - 50 cm van mekaar af gesaai word met ’n digtheid van 150 - 200 plante per m².

Saaityd

Geelwortels kan die meeste maande van die jaar gesaai word indien die temperature reg is vir optimale groei. ’n Goeie norm is Augustus tot Oktober en Februarie tot April.

Planttyd

Geelwortels kan nie uitgeplant word nie.

Groeiperiode

100 – 120 dae na saaityd

Bemesting

Bemesting moet gebaseer word op die grondanalise. As ’n algemene riglyn moet 150 kg/ha van 2: 3: 4 (24) in die boonste 20 cm grond voor saaityd ingewerk word. Kalium moet dan weer 4 weke na saaityd toegedien word. Kalksteen ammoniumnitraat van 100 tot 200 kg/ha moet ongeveer 6 weke na saaityd toegedien word.

Besproeiing

Wanneer geelwortelsaad geplant word moet die grond vogtig wees. Dit kan daaglikse besproeiing vereis. In koeler klimate is 25 - 30 mm water per week nodig met gereelde besproeiing om te verseker dat die grond vogtig bly. In warmer temperature kan die grond tot 50 mm water per week benodig.

Translated by Ananda Schoeman