Ernstige Siektes by Varke

© Courtesy of National Pork Board and the Pork Checkoff (Des Moines, IA USA)

Daar is baie siektes en parasiete wat varke affekteer, sommige ernstiger as ander. Sommige is oordraagbaar aan die mens, sommige aan ander soogdiere en voëls, sommige kom oral voor in soortgelyke vorms.

Dit is nuttig vir die kleinskaalse varkboer om die teenwoordgheid van werklik vernietigende en aansteeklike infeksies te herken. Dit is ook belangrik om te weet waar om professionele hulp te kry en om die simptome by ‘n aangetaste dier of abnormaliteite in ‘n dooie dier te kan beskryf.
Hierdie artikel handel oor sommige van die tekens wat siek diere sal vertoon terwyl hulle lewe en wat by die naaste staatsveearts aangemeld behoort te word.

Wat is Varkpes?

©National Institute of Allergy and Infectious Diseases (NIAID)
Twee baie soortgelyke virusinfeksies is Afrika Varkpes (ASF) en Europese Varkkoors/pes. Europese Varkpes staan ook bekend as klassieke varkpes (CSF) of as Hog Cholera in Amerika.
Die varkpessiektes behoort tot die groep hemoragiese koorssiektes (koorssiektes geassosieer met griep-agtige simptome gepaard met bloeding) wat die Ebola- en Marburgvirusse insluit sowel as sommige soortgelyke menslike virusinfeksies. Al hierdie koorssiektes het dieselfde kliniese voorkoms: hulle versprei baie vinnig, amper alles en almal wat in kontak was raak geïnfekteer en ‘n hoë persentasie slagoffers vrek.

Simptome van Varkpes

Beide ASF en CSF volg dieselfde patroon. Simptome sluit in ‘n hoë koors, bloeding onder die vel en in lewensbelangrike organe en tekens van pyn, gevolg deur ineenstorting en dood binne dae. Karkasse bly aansteeklik vir weke.

Vlakvarke in die geïnfekteerde areas mag die ASF virus vir lang periodes dra en geïnfekteerde sagte bosluise versprei wat as draers dien. Mense doen nie ASF of CSF op nie.
Die varkboer sal ‘n skielike toename in vrektes in die trop opmerk, dikwels nadat ‘n nuwe vark aangekoop is, of as daar vlakvarke in die geïnfekteerde gebied is, meestal in die Limpopo Provinsie, dele van Mpumalanga en die noordelike punt van KwaZulu-Natal in Suid-Afrika.
ASF kom wydverspreid in Sentraal en Wes-Afrika voor en het al na baie dele van Europa en nou ook Asië versprei. CSF het ‘n paar jaar gelede as ‘n eksotiese siekte in die Oos- Kaap voorgekom en is uiteindelik teen ‘n groot koste uitgeroei.

Wat is Bek-en-Klouseer?

Bek-en-Klouseer (FMD) is ‘n snel-verspreidende infeksie waarvan elke varkboer hoor en vrees. ‘n Addisionele gevaar vir varkboere is dat dit ‘n wye verskeidenheid diere affekteer, insluitend al die wildsbokspesies en buffels, mak herkouers (beeste, bokke en skape) en varke. Dit kom ook voor in ‘n goed-geïsoleerde en afgebakende area in die noord-oostelike hoek aangrensend aan die Kruger Nasionale Park.

Bek-en-Klouseer in Varke

©Diseases of Swine 8th edition
Varke word ernstig geaffekteer deur bek-en-klouseer. Hierdie siekte kan swaar verliese onder jong varkies tot gevolg hê. Ouer varke wat oorleef, tree op as massiewe vermenigvuldigers van die virus en skei vir maande lank miljoene viruspartikels uit. In die groter herkouers veroorsaak die siekte selde vrektes; behalwe in baie jong varkies.
Die vernaamste simptome van bek-en-klouseer is koors – sigbaar as ‘n verlies aan eetlus en klein blasies in die bek en snoet wat dit moeilik maak om te vreet. Soortgelyke blasies verskyn op die borand van die hoewe wat dit pynlik maak om te loop. Dikwels dop die hele taai buitenste gedeelte van die hoef af sodat die sagte binnehoef onbedek gelaat word; weereens ‘n pynlike belemmering van enige beweging.
Die skade wat deur FMD aangerig word is finansieel: produksie word ernstig geaffekteer deur die verlies aan groei van diere, vermindering in melkproduksie, vrektes onder diere en lang periodes van uitvoerembargo’s wat geplaas word op alle moontlik besmette produkte, selfs vrugte en groente.

Vark Voortplantings en Asemhalingsindroom - PRRS

©Dr Jim Robinson
Afgesien van Afrika Varkpes (ASF), Klassieke Varkpes (CSF) en bek-en-klouseer, is daar ook vark voortplantings-en asemhalingsindroom (PRRS) – ‘blou oor siekte’. Hierdie eksotiese siekte is al telkens uitgeroei in Suid-Afrika sedert 2007 en mag terugkeer. Die vernaamste simptome van PRRS is aborsie, longontsteking en hoë koors. Dis nie naastenby so dodelik as ASF nie.

Behandeling van Varksiektes

Daar is geen behandeling soos antibiotika vir hierdie virussiektes nie. Beide is ‘beheerde siektes’ volens die Dieregesondheidswet. Dit beteken dat enige vermoede van ‘n uitbreking by die Staatsveearts aangemeld moet word en dat die beheermaatreëls deur die Regering hanteer sal word sodra die diagnose bevestig is.
Daar is geen entstof teen ASF nie, en niks word beplan op hierdie stadium nie. Selfs goeie entstowwe kan veroorsaak dat diere die virus dra sonder hulle enige simptome wys. Periodieke uitskeiding van die ASF virus kan ‘n nuwe uitbreking veroorsaak.

Entstowwe teen bek-en-klouseer bestaan wel en word dikwels gebruik tesame met kwarantyn en isolasie binne ‘n geïnfekteerde area. Waar nodig, mag die regering alle diere wat bek-en-klouseer het en diere wat met hulle in kontak was tot niet maak en die karkasse vernietig as die enigste effektiewe manier om die virus uit te roei.
Let wel:
Inligting is slegs vir opvoedkundige- en inligtingsdoeleindes en mag nie voorgestel word as mediese avdvies nie. Die doel van die inligting is nie om mediese advies of behandeling deur jou veearts te vervang nie.

Translated by Elna Van Rhyn