Die Eet van Manna

Manna is ’n onbekende, maar voedsame graan wat op bestaansvlak in die Afrika platteland geproduseer word. Die graankorrels word deur mense geëet en diere geniet die groen plantmateriaal sowel as die graan.

Hoe om Manna te Eet

Manna is ’n voedsame graan wat hoog is sink, vitamien A en B. Dit het drie keer meer yster en vyf keer meer kalsium as mielies en bevat ook kalium, fosfor, magnesium, sink, koper en mangaan. Manna het ’n hoër vetinhoud en ook 9% meer proteïene as ander graansoorte. Navorsing wat in Indië gedoen is het bewys dat manna meer voedsaam is as rys en koring.
Daar word ’n tweestap proses gevolg om meel van manna te maak. Eerstens word die graan met water gemeng om ’n taai massa te kry en dan word dit gedroog en gemaal om meel van te maak. Hierdie meel word gebruik om pap van te maak of as ’n bestanddeel in tradisionele disse soos koeskoes en platbrood.
In Indië word die manna-meel gebruik om ’n brood genaamd “chapati” te maak. Die korrels word ook soos springmielies geëet (dit het ’n geroosterde smaak). In sommige gebiede word die groen saadkoppe gerooster en as groente geëet.
Manna word ook as ’n mout vir bier gebruik. Gedurende die brouproses spruit die manna tot omtrent 25 mm uit en verander stysels in suikers. Hierdie spruite word dan songedroog en tot ’n growwe meel gemaal. Hierdie meel word dan met water gemeng, gelos om te gis en bier van te maak. Manna kan in die plek van sorghum mout gebruik word om moutbier van te maak, maar die klein korrels is ’n nadeel in grootskaalse bierbrouery.

Manna as Veevoer

Manna is baie geskik as ’n groenvoer want dit groei vinnig, het sappige blare, kan herhaaldelik afgesny word en loop baie maklik uit. Die proses word “tillering” genoem. Dit is die ontwikkeling van lote uit ’n afgesnyde plant wat graankorrels produseer.
Manna-lande kan as dit 40 – 50 cm hoog is bewei word, maar glad nie onder 15 – 30 cm nie. Dit is ongeveer 40 – 50 dae nadat dit saad geskiet het. Na die weiding moet die land vir 5 weke rus voordat daar weer daarop gewei word. Die droë manna se opbrengs is vanaf 0.25 – 3 ton per hektaar in semiwoestyn klimate en tot 27 of selfs 40 ton per hektaar in ideale omstandighede.
As die graankorrels vir diere gevoer word moet dit fyngemaal word. As dit te grof gemaal word kan die harde dop versplinter en ’n interne irritasie in vee veroorsaak. As ’n veevoer is manna beter as sorghum, maar nie so waardevol soos mielies nie. Ongemaalde manna kan vir lêhenne gevoer word. Varke wat manna kry om te eet is 10 dae vroeër reg om geslag te word.

Translated by Ananda Schoeman