Buchu-olie vir Swartbessie-smaak en Geur

©Alice Notten of Kirstenbosch
Boegoe is die generiese naam vir lede van die aromatiese Rutaceae-familie en word wêreldwyd hoog aangeslaan vir sy medisinale eienskappe. Dit is eers deur die San en Khoi-mense in Suid-Afrika gebruik om koors, rumatiek en spysverteringsprobleme te behandel. Die vroeë setlaars in Suid-Afrika het die blare in asyn en brandewyn laat trek en dit gebruik vir spysverteringsprobleme, wurms en maagkwale. Boegoe het nou 'n gewilde bestanddeel in die farmaseutiese en voedselbedrywe geword.
Slegs twee spesies Agathosma crenulata (lang-blaar boegoe) en Agathosma betulina (ronde blaar boegoe) het kommersiële waarde as essensiële olies. Die opbrengs is ongeveer 1 - 2% van die vars materiaal. Die olie word gebruik in skoonheidsmiddels, as 'n geurmiddel om 'n swartbessie-geur te verleen en as ‘n voedselkleursel.
Medisinaal word boegoe-olie gebruik om nierprobleme en borsklagtes te behandel. Dit is ook 'n uitstekende anti-inflammatoriese middel en word gebruik in salf, tee, verkoop as boegoe-water of as 'n suiwer olie. Die plant se blare is natuurlike detoksifiserend en bied natuurlike verligting vir menstruele krampe en opgeblasenheid. Boegoe-olie het 'n GRAS-status (‘generally recognized as safe’), en word algemeen aanvaar as veilig deur beide die ‘Food and Drug Administration’ (FDA) en die Europese Unie.
As gevolg van die goeie verkoopprys van die olie en die bedreiging van wilde boegoeplante, het boere boegoe kommersiëel begin aanplant, veral rondom Piketberg, Citrusdal en Cederberg. Dit is endemies aan die laer hange van die berge van die Wes-Kaap. Boegoe verkies sanderige, goed gedreineerde suur gronde en kan van saad gekweek word.

Mediese Vrywaring

Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Dit is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Hazel Oliver