Braambessies

©Louise Brodie

Die presiese oorsprong van braambessies is onbekend, omdat daar baie verskillende spesies regoor die wêreld geproduseer word. Braambessies is inheems aan Eurasië en Noord-Amerika en is so vroeg as die Griekse en Romeinse tye gebruik. Dit is ook deur inheemse Amerikaners as voedsel, medisyne en kleursel gebruik.

Dié keuse van plantmateriaal het eers rondom die middel tot laat 1800s begin. Produksie vir plaaslike verkope het meer algemeen rondom die 1900's voorgekom.

Internasionale Produksie

Oor die afgelope paar jaar het braambessie produksie toegeneem om tred te hou met die stygende aanvraag. Dit word gedryf deur gesondheidsbewerings wat verbruikers aanspoor om meer vars vrugte te eet. Die aanvraag het ook gegroei omdat braambessies so 'n gerieflike peuselkos is, omdat min van die bessie gemors word en dit 'n perfekte aanvulling is tot ontbytgraan en jogurt.

Die ontwikkeling van nuwe variëteite help produsente om aan die verwagtinge van verbruikers te voldoen deur die smaak en gehalte van die braambessie, asook die gemak van die produksie en die lang raklewe daarvan, te verbeter. Die Verenigde State van Amerika, Europa en Mexiko is die voorstaande produsente.

Plaaslike Produksie

©Louise Brodie

Braambessie produksie word op kleinskaal gedoen in Suid-Afrika, en sal na verwagting so bly oor die volgende paar jaar. Een van die grootste uitdagings vir die bedryf is dat die variëteite wat gekweek word nie baie geskik is vir uitvoer nie. Nuwe variëteite word wel beskikbaar gestel wat sal help om hierdie uitdaging aan te spreek.

Produksie

Braambessies floreer in diep goed gedreineerde suur grond met hoë organiese materiaal en word op die oomblik geproduseer in die Wes-Kaap, Vrystaat, Noordwes, Gauteng en Limpopo. Byna 80% van die oes word in tonnels geproduseer en die res in oop velde.

Produksie Seisoen

Die braambessie is 'n somervrug, en sy produksie seisoen begin in November in Suid-Afrika, afhangende van die gebied van produksie en variëteite.

Variëteite

©Louise Brodie

ʼn Verskeidenheid van rasse word gekweek wat óf grondlangs of regop groei met wisselende grade van dorings. Die regop variëteite is oor die algemeen meer koud-bestand as dié wat op die grond groei.

Braambessie plante neem tot drie jaar om volwassenheid te bereik en bly produktief vir tot-en-met twaalf jaar. In 2018 was ongeveer 52% van die braambessies wat in Suid-Afrika geplant is, jonger as drie jaar oud en meer as 40% was ouer as sewe jaar, soos weerspieël deur die SA Braambessie Produksie Vereniging.

Verkope

©Louise Brodie

Volgens die SA Braambessie Produksie Vereniging het Suid-Afrika rofweg 225 ton bessies in 2018 geproduseer, waarvan 48% uitgevoer, 41% plaaslik verkoop en 11% verwerk is. Meer as 90% van die uitvoere is na Europa en die res na die Midde-Ooste.

Gebruike

Braambessies word beskou as 'n 'super voedsel', want dit is ryk aan vitamiene A, C en E, minerale soos kalium, magnesium en kalsium, asook vesel en antioksidante. Daar word gelgo dat al hierdie voedingstowwe met die voorkoming van hartsiektes help.

Braambessies kan vars geniet word, asook gebruik word in gebak, gevries of verwerk. Verwerke braambessies kom in die vorm van nageregte, sap, tee, jogurt en konfyt. Daar word beweer dat die wortels van die plant diarree en disenterie kan help behandel, terwyl die sap blykbaar die vel teen infeksies en voortydige veroudering beskerm.

Mediese Vrywaring

Inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Die inligting is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Wilma Koeppen