Blaarslaai Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Blaarslaai plant met die saai van saad voort. Alhoewel die saad in koel temperature so laag as 5°C kan ontkiem, is die beste temperatuur vir saailinge tussen 18°C en 22°C. Dit verseker eenvormige groei en derhalwe blaarslaai wat gelyktydig reg is vir die oestyd en mark.

Hoe om te Plant

Blaarslaai-saad kan direk in die land gesaai word en uitgedun word sodra dit opkom, maar dit is baie arbeidsintensief en dus duur. Die meeste kommersiële produsente sal saad in kweekhuise saai en vier tot vyf weke nadat dit ontkiem het die saailinge uitplant. In kleiner areas kan daar met die hand geplant word, maar meestal word daar van meganiese planters gebruik gemaak.

Spasiëring

Die plantdigtheid wissel van variëteit tot variëteit maar is gewoonlik 60 000 tot 120 000 plante per hektaar. Die beddings word tot ’n hoogte van 1000 - 1200 mm opgeërd en elk het drie tot vyf rye. Die blaarslaai word 20 - 30 cm van mekaar af in rye wat 15 - 20 cm van mekaar af is geplant. Die saadbeddings word volgens die grootte van die plaasimplemente se wiele gemaak.

Saaityd

Saai die blaarslaai-saad in die vroeë lente of herfs wanneer die temperature na die somerhitte begin afneem.

Planttyd

Plant saailinge regdeur die jaar as die temperatuur reg is en daar nie oormatige winterryp is wat die plante kan beskadig nie. Indien die klimaat ideaal is, kan daar tot 3 oeste per jaar wees. In kweekhuise kan blaarslaai die hele jaar verbou word en sal gewoonlik die helfte tot twee-derdes van die tyd in beslag neem as dié wat direk in die land geproduseer word.

Groeiperiode

Die vier tipes blaarslaai se groeiperiode en oestyd verskil.
Ysberg: tien tot twaalf weke na aanplanting.
Botter: ses tot tien weke na aanplanting.
Romaine: tien tot twaalf weke na aanplanting.
Losblaar: kan vanaf ongeveer vyf tot ses weke na aanplanting voortdurend vir lang tydperke geoes word.

Bemesting

Bemesting moet volgens die grondanalise se aanbevelings gegee word. Indien daar nie ’n analise gedoen is nie kan 750 kg 2:3:4 (30) voor planttyd in die boonste 30 cm van die plantry ingewerk word vir die saailinge se vinnige ontwikkeling. Vier tot vyf weke na planttyd kan ’n tweede bemesting van 250 kg KAN langs die plantrye toegedien word. As drupbesproeiing gebruik word kan die regte hoeveelheid vloeibare kunsmis deur sproeibemesting toegedien word.

Besproeiing

Oorhoofse, sprinkel, mikro-jet of drupbesproeiing kan gebruik word. Die beste is drupbesproeiing aangesien dit water bespaar en presies die regte hoeveelheid water gegee word. Blaarslaai het meer as ’n 80% waterinhoud en is dus sensitief vir waterstres. Te min water sal produksieverlies en verwelking tot gevolg hê. Daar kan ook te veel water gegee word wat tot anaërobiese toestande (te min suurstof) in die wortelsone en wortelvrot siektes kan lei.
Dit is raadsaam om die grond gereeld te monitor en sodra dit begin uitdroog nat te gooi. Installeer ’n grondvogmeter om hiermee te help.

Translated by Ananda Schoeman