Baobab: Voedingsmiddel

© Andrew Hankey from SANBI

Baobab, die ikoniese kremetartboom (Adansonia digitata) is 'n bekende prentjie in warm, droë laagland-gebiede van Afrika, Madagaskar, Indië, Sri Lanka en Australië. Die baobab herinner aan 'n onderstebo boom met die takke wat soos wortels lyk. Hierdie langlewende bladwisselende vrugteboom se stam kan maklik 'n omtrek van tot 25 m bereik en tot so oud as 1 000 jaar word.
Baobab bied kos, water en vesel aan die mensdom, maar het ook medisinale gebruike. Jong blare word gebruik om souse mee te kook of gedroog en fyngemaal om te eet of om koors te behandel. Die draderige vesels van die bas word gebruik om toue, papier te maak en tekstiele mee te weef terwyl noodwater uit die takke en stam gepers kan word. Die poeieragtige vrugmassa is 'n natuurlike bron van kalsium (Ca), bevat magnesium (Mg), kalium (K) en B-kompleks vitamiene en word gebruik om ‘n verfrissende vitamien C-ryke te maak.
Die wit hangende blomme wat van Oktober tot Desember blom, word deur vlermuise bestuif en produseer ovaalvormige vrugte met 'n harde dop wat 'n poeieragtige vrugmassa en olieryke sade bevat. Die vrugte, sowat 12 cm lank, val grond toe wanneer dit ryp is. Dit word bereken dat dit tussen 8 en 23 jaar duur voordat die bome vrugte dra. Die volwasse boom kan meer as 30 kg vrugte per seisoen produseer.

Die lig-gegeurde en semi-vloeibare, baobabolie is eetbaar, maar word hoofsaaklik in skoonheidsmiddels gebruik. Die olie het versadigde, mono-onversadigde en poli-onversadigde vetsure met 'n omega-6 inhoud van ongeveer 30%. 'n Verbinding in die olie (β-sitosterol) is 'n baie sterk antioksidant wat DNA-skade in selle kan verminder. Dit bevat vitamiene A (wat selmembrane hernu), asook vitamienes D3, K en E.
Baobab-olie word meestal koud-geëkstraheer en maak 'n goeie masseer-olie wat maklik geabsorbeer word. Die baobab-olie word tradisioneel gebruik om geswelde en ontsteekte tandvleis te genees, maar krulhare en droë lippe te bevogtig, as 'n velbevogtiger en om rekmerke te behandel deur kollageenvorming te stimuleer. Die olie se helende eienskappe is geskik vir ekseem- en psoriase-velle omdat dit die epidermis herstel en bevogtig.
Baobab-bome kan gekweek word van saad of deur die plant van natuurlik-gegenereerde saailinge. Die boom is tuis in semi-droë tot subtropiese sones, maar is baie sensitief vir ryp. Baobabs is gasheerplante vir witluise wat vektore van virussiektes van kakao is.

Mediese Vrywaring

Inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Die inligting is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Hazel Oliver