Avokado Produkte

©Photo courtesy of the California Avocado Commission

Avokado's word meestal vars in sy natuurlike vorm geëet, maar kan ook verwerk word om olie en pulp te produseer. In 2018 was Suid-Afrikaanse produksie van avokado’s sowat 170 000 ton waarvan die helfte (86 000 ton) na Europa en die Verenigde Koninkryk uitgevoer is. Sowat 40% is op die plaaslike mark verkoop en 'n verdere 10% is verwerk tot avokado olie en puree.

Avokado Olie

Die olie-inhoud van avokado’s is tweede net agter olywe en is soms ook groter. 

Die vlees van ryp avokado’s kan verwerk word om ru-olie, geraffineerde olie, en koud geperste avokado olie te produseer; hierdie word in die kosmetiese en voedselbedryf gebruik. Avokado-olie is beskikbaar as ekstra-suiwer (virgin) en kan bv. met knoffel of suurlemoen gegeur wees. Afgesien van die gebruik daarvan in slaaie en marinades het dit ook 'n hoë rook punt van 250°C wat dit ideaal vir braai en rooster maak.

Avokado-olie is 'n bron van omega-3-vetsure, bevat mono-onversadigde vetsure soos die anti-inflammatoriese oleïensuur en is cholesterol-vry. Dit bevat ook chlorofil wat nie net 'n natuurlike bron van magnesium is nie maar dit help ook met die ontslae raak van swaar metale in die liggaam.

Avokado-olie is 'n vitamien-ryke olie wat vitamiene A, B1, B2 en D, aminosure en lesitien bevat en word veral geprys vir sy anti-oksidant eienskappe as gevolg van hoë vlakke van vitamien E. Dit is geskik vir sensitiewe, son-beskadigde vel en kan help om vel probleme soos ekseem en psoriase te verlig.

Avokado-olie word in glasbottels verpak vir kleinhandel en grootmaat olie is beskikbaar in 210 liter dromme.

Avokado Pulp

©Westfalia Fruit

Avokado's word verwerk tot guacamole wat 'n dip is, of avokado puree / pulp. Hoë druk verwerking word gebruik om die pulp te produseer waarna die produk verpak en by minus 18°C gevries word. Bevrore pulp het 'n raklewe van tot 2 jaar en 'n 30-dag koel raklewe na ontdooiing. Ontvries oornag in 'n yskas.

Avokado pulp kan ongegeurd of gegeurd wees met tamatie, uie, suurlemoen, koljander en speserye soos rissies. Kleinhandel pakke word in plastiek houers geplaas en grootmaat produkte word in plastiek sakke van tot 3 kg verpak. Die meeste avokado puree en guacamole produkte uit Suid-Afrika is Kosher en Halaal gesertifiseer.

Gevriesde Avokado's

©Westfalia Fruit

Ryp avokado's word geskil, ontpit en in skywe of blokkies gesny. Hierdie avokado stukke word dan gedoop in 'n mengsel van askorbiensuur en sitroensuur voordat hulle individueel vinnig gevries (IQF) word. Die produk word dan in plastieksakke geplaas.

Translated by Wilma Koeppen