Viognier

Beskrywing

Viognier is ’n witwynkultivar wat geneties afkomstig is van die Piedmontese druif, Freisa. Die naam is afgelei van die Keltiese woord “vidu”, wat hout beteken.

Herkoms

Die variëteit kom oorspronklik van Dalmasië – vandag se Kroasië – van waar die Romeinse Keiser Marcus Aurelius Equitius Probus, dit glo rondom 280 n.C. na Frankryk geneem het. Die variëteit was swaar getref en naby aan uitsterwing na die Phylloxera epidemie, wat in die 19de Eeu baie Europese wingerde verwoes het.

Om-en-by 1980, het die area onder produksie in die Rhône-vallei, wat op daardie stadium die grootste offisiële Viognier aanplantings in die wêreld gehad het, gekrimp tot ’n skamele 20 ha. Die gewildheid van die wyn het sedertdien gegroei en vandag word Viognier geplant is bykans al die wynproduserende streke van die wêreld.

Ander Name

Die variëteit se oorspronklike naam was Vugava Bijela. Dit staan ook bekend as Petit Vionnier en Vionnier.

Produksie in Suid-Afrika

Charles Back van Fairview in die Paarl, het ’n groot rol gespeel in die bekendstelling van Viognier in Suid-Afrika. Die eerste plantmateriaal was glo in 1989 ingevoer en hy was in die 1990s, die eerste produsent om dit te plant en ’n Viognier gebottelde wyn vry te stel.

Produksiestreke

Viognier verteenwoordig steeds ’n relatiewe klein deel van Suid-Afrika se totale area onder wyndruiwe. Die variëteit word nietemin in al die wynproduserende streke van die land geplant, met die grootste area onder produksie in die Paarl, gevolg deur die Swartland en Stellenbosch.

Alhoewel die variëteit goed presteer onder warm klimaatstoestande, word tipiese geurprofiele in koeler toestande versterk, byvoorbeeld op relatiewe hoë suidelike hellings of in areas wat koel somerwinde ontvang.

Groei

Die variëteit het gemiddelde groeikrag en ’n gemiddelde opbrengs potensiaal van 6 t/ha tot 8 t/ha.

Rypwording

Die druiwe word vroeg ryp, vanaf einde Januarie tot die tweede helfte van Februarie.

Korrels

Die witgroen korrels kry ’n geelbruin tint wanneer hulle ten volle ryp is. Die korrels is klein, ovaal, met dun doppe. Die vleis het ’n sterk vrugtige smaak.

Blare

Die blare is van ’n medium grootte, rond en het drie tot vyf lobbe.

Peste en Siektes

Die wingerde moet verkieslik opgelei word om sonbrand te verhoed en goeie beligting te verseker. Die variëteit is vatbaar vir donsskimmel en geneig om botrytis te ontwikkel wanneer dit op hoë vrugbare grond geplant word.

Gebruik

Dit word verkoop as ’n enkel-kultivar wyn of met ander wit of rooi variëteite versnit, soos Chardonnay of Shiraz.

Smaak

Die klone wat in Suid-Afrika beskikbaar is, word geassosieer met sitrusbloeisels, perskes, tropiese vrugte, heuning en eksotiese spesery.Translated by Glenneis Kriel