Wilderoosmaryn

© Alice Notten of Kirstenbosch
Hierdie klein struik met die silwer blare en wit blomme word Eriocephalus Africanus oftewel wilderoosmaryn genoem en is lid van die Asteraceae (madeliefie) familie. Dit word ook soms die kapokbos genoem as gevolg van die wit saadklossies. In Suider-Afrika is daar 34 Eriocephalus spesies, almal met wollerige vrugte. Die wilderoosmaryn, Eriocephalus Africanus, moet egter nie met die Eriocephalus Punctulatus (kapokbos) verwar word nie.
Tradisioneel het die Khoi en vroeë Kaapse setlaars dit gebruik vir die behandeling van maagkwale en as ’n antidepressant of ontspanningsmiddel. Daar is ook geglo dat dit help met haargroei en die breek van verslawings en negatiewe emosies. Net soos roosmaryn het die wilderoosmaryn ’n verfrissende effek en dien as ’n antidepressant, wat ook gevoelens van stres, angs en woede verlig. Die olie verlig spasmas (spier, respiratoriese of spysverteringstelsel) en is effektief om bloeding te stop. Die antiseptiese en antivirale eienskappe beskerm die liggaam teen infeksies. Dit word ook gebruik as diuretikum (om gifstowwe uit die liggaam te verdryf), om hoes en verkoue te behandel en hoofpyne te verlig. As die blare gevryf word gee die plant ’n vars kamferreuk af.
Wilderoosmaryn groei hoofsaaklik in die Namakwaland, Wes- en Oos-Kaap. Die silwer blare help om sonlig te weerkaats en blaartemperatuur en vogverdamping uit die plant te verminder. Dit is een van die maniere waarop die plant aangepas is om water te behou as dit onder droë toestande groei. Eriocephalus verkies volson en goed gedreineerde grond.

Mediese Vrywaring

Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Dit is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Ananda Schoeman