Die voer van vis is een van die belangrikste aspekte van intensiewe varswater visboerdery. In baie sulke boerderysisteme dra voer tot amper 60% van die operasionele kostes by. Die winsgewendheid van die visplaas hang af van goeie voerbestuur, opimale benutting van die voer en minimale vermorsing.
Daar is drie belangrike aspekte om in aanmerking te neem:
Voerkwaliteit vanaf verskaffers
Bergingsfasiliteite
Voedingsprosedures
As vis te min voer of swak kwaliteit voer ontvang, sal hulle gewig verloor of vrek weens wanvoeding. Groei is slegs moontlik nadat die vis se instandhoudingsbehoeftes (wat insluit liggaamsfunksies soos asemhaling en bloedsirkulasie) bevredig is. Hierdie behoeftes neem toe sodra watertemperature verhoog omdat die aktiwiteit van die vis dan ook toeneem.
Hier is ‘n paar riglyne om voerbestuur en voer van vis te optimaliseer:
Moenie viskosvoorrade vir meer as 4 – 6 weke aankoop nie en moet nooit gemufte kos koop nie aangesien skimmel sekere toksienes kan produseer wat gevaarlik is vir vis.
Berg viskos op ‘n palet in ‘n koel, droë plek met goeie ventilasie. Hou weg van klam mure.
Verseker dat die stoorplek vry is van knaagdiere en ander peste wat die kos mag besmet.
Kies die korrekte grootte graansoort en voedseltipe volgens die groeifase in die lewensiklus van die vis. Henk Stander, hoof tegniese bestuurder van die Akwakultuur Afdeling van Stellenbosch Universiteit, verduidelik dat voer spesifiek is vir verskillende varswatervisspesies en ook sal verskil volgens die ouderdom van die vis. Jong vissies benodig meer proteïene in hul dieet as ouer vis van dieselfde spesies. Die verkeerde grootte korrels kan ook lei tot vermorsing; as die korrel te groot is, sal dit nie onmiddelik gevreet word nie. Soos die korrel sag word in die water, sal die vissies daaraan vreet totdat dit uitmekaar val. Dit veroorsaak vermorsing omdat stukkies na die bodem van die dam sak terwyl sekere elemente in die water oplos.
Moenie jou vis te veel kos gee nie. Sommige viskosvervaardigers het aanlynvoedingsprogramme waarvan visboere kan gebruik maak via hulle slimfone of rekenaars. Hierdie visvoedingsprogramme adviseer oor die korrekte gewig kos om daagliks te voer, afhangende van die vis se gewig. Byvoorbeeld, in besproeiingsdamme buite, benodig tilapia van 100 – 200 g gewig 3 g per dag, maar as hulle uitgegroei is in bedekte tenks, benodig elke vis 4.5 g per dag, sê Henk Stander.
Handhaaf korrekte voerprosedures. Dit sluit in die tyd van die dag waarop daar gevoer word, die voertempo, kosverspreiding in hokke (of damme) en gereeldheid van voeding.
Let op die visgedrag voor, tydens en na voeding en pas die voeding aan daarvolgens. Byvoorbeeld, groter (ouer) vis word tweekeer of driekeer per dag gevoer terwyl jonger vis meer dikwels gevoer word. Nog jonger vis word deurlopend gevoer deur middel van meganiese voerders. Let op gedrag en reageer op enige ongewone reaksies soos vis wat minder eet as gewoonlik.
Die byvoeging van karoteen tot die dieet van forel moet ten minste 8 – 10 weke voor beplande bemarking, of wanneer vis die helfte van hul bemarkbare gewig bereik het, gedoen word, bv. as vis op 800 g bemark word, behoort hulle karoteen te ontvang op 400 g. Karoteen bevat plantpigmente wat bydra tot die pienk kleur van reënboog forel.
As die water troebel is, veral na swaar reëns, verswak die sigbaarheid en kos moet stadig gevoer word om te verseker dat alle vis ordentlik gevoer word. Kleiner hoeveelhede kan ook meer dikwels per dag gegee word.
Hou op om te voer as visrespons beperk is en begin eers weer voer as die respons verbeter. Voorgeskrewe voedselhoeveelhede wat verlore geraak het kan altyd ingesluit word in toekomstige voersessies om die visvoedingsprogram op datum te kry.
Translated by Elna Van Rhyn