Tilapiaboerdery Tydlyn

©Nicholas James

Daar is drie hoofmomente in die tilapiaboerderytydlyn: uitbroei van vingerlinge, grootmaak en vang, asook prosessering van die opbrengs. Nie al hierdie aktiwiteite word altyd gedoen op ‘n akwakultuurplaas nie, behalwe op die heel grootste kommersiële tilapiaplase.

Broeierye produseer hoë kwaliteit vingerlinge. Grootwordeenhede mag geleë wees in die Laeveld of afgeleë areas terwyl die prosessering van die vis dikwels baie basies is met vis wat sommer by die plaashek verkoop word.

Plattelandse plase wat in gemeenskappe geleë is sal ‘n plaaslike mark vind vir klein, vars vissies. Dié wat nader aan stedelike gebiede geleë is, mag meer gesofistikeerde markte vind wat rooi tilapia, skoongemaakte en ontskubde vis of selfs filette vereis.

Uitbroei van Tilapiavingerlinge

Om tilapia te laat broei, soos enige gesofistikeerde ras verbeterings program, vereis gespesialiseerde fasiliteite. Die dae van gemengde geslag vingerlinge wat sommer in tuisgemaakte broeierye uitbroei is lankal verby.  Broeierye bied nou gegradeerde, slegs manlike tilapia uit verskeie bloedlyne aan met bewese groei en siektebestande voordele.

Hierdie gesofistikeerde visbroeifasiliteite het spesiale maatreëls om inteling te voorkom en genetiese diversiteit te verseker. Slegs die grootste kommersiële visplase moet dit oorweeg om hul eie broeierye tot stand te bring. Andersins, om jou dam vol te maak, oorweeg dit om vingerlinge aan te koop. Vingerlinge is nie duur nie en lugvervoer na die gootste sentra sowel as padvervoer met hoë oorlewingskoerse is al vervolmaak.

Grootmaak van Tilapia

Grootmaakfasiliteite vir tilapia kan óf tenks óf damme wees.  Hierdie tenks of damme moenie te klein wees nie. Enige kunsmatige uitgroeidam vir tilapia kleiner as 3000 liter is slegs vir stokperdjieboere en sal nie goeie resultate tot gevolg hê vir kommersiële tilapiaboere nie.

Tilapia-uitgroeidamme moet minstens 0.25 ha groot (2 500 m²) wees om goeie waterkwaliteit te onderhou en natuurlike voedselverbetering toe te laat. Hoe groter die dam, hoe meer geleentheid vir vis om natuurlik te vreet, en hoe meer stabiel en hoe minder uitgelewer aan skielike waterkwaliteitsverandering soos skielike suurstoftekorte of toenames in ammoniak weens afvalprodukte van te veel vis in ‘n te klein poeletjie.

Kunsmatige tenks van 1 – 1.5 mᶟ (1 000 – 1 500 liter) en klein gronddammetjies van 100 – 500 m² sal nie die volle potensiaal van groei en gesondheid van tilapia toelaat nie. Klein tenkies en dammetjies sal substandaard opbrengste lewer, die risiko van visvrektes verhoog en waterkwaliteitsverlies verhoog tot so ‘n mate dat groei en gesondheid negatief geaffekteer word.

Tilapiaboerdery behels ‘n daaglikse roetine van voer, waarneming en optekening van vis vir gesondheid en goei. Nagaan en aanteken van waterkwaliteit parameters en instandhouding van toerusting soos pompe en filters en oestoerusting word ook daagliks gedoen.

Ander seisoenale take sluit die volgende in: vis word geoes en geprosesseer; tenke en filters word skoongemaak en uitgroeitenks en damme word skoongemaak en weer gevul met vingerlinge.

Om tilapiadamme weer te vul met vingerlinge word slegs manlike vingerlinge gebruik omdat hulle vinniger groei en ‘n beter voeromskakelingsratio het. Slegs manlike vingerlinge verhoed ook die ongewenste produksie van klein visies en vingerlinge. Klein vissies en vingerlinge kompeteer met vingerlinge vir kos. Die teenwoordigheid van vroulike vis verminder die opbrengste beduidend.

Slegs manlike vingerlinge is vryelik beskikbaar by geregistreerde broeiers teen ‘n redelike prys. Dit maak nie meer sin om self swak kwaliteit vingerlinge te produseer, hulle te voer met duur kos vir ‘n jaar en dan ‘n substandaard opbrengs te hê nie.

Die Oes van Tilapia

Daar kan geoes word sodra die vis reg is vir ‘n spesifieke mark. Oesgrootte hang af van markvereistes. Dit kan varieer van klein tilapia van 250 g, dikwels verkies deur plattelandse markte, heel of nie skoongemaakte visse van 500 g, skoongemaakte en ontskubde visse vir die meer gesofistikeerde mark. Tilapia vir stedelike verbruikers word gewoonlik verkoop teen ‘n hoër prys per kilogram.

Tilapia kan selektief geoes word uit damme met ‘n net met groot gate wat slegs vis van ‘n sekere grootte vang. Andersins kan groot tilapia uit kleiner houers gevang word terwyl die ander gelaat word om verder te groei.

Sommige markte verkies die sterker “visserige” smaak van vis wat in groen water grootgeword het, terwyl ander ‘n makker smaak verkies. Die “visserige” smaak kan verwyder word deur tilapia in skoon water te hou vir ‘n paar dae. Die logistiek en stres verbonde aan die vang en verskuif van groot hoeveelhede vis van oesbare grootte moet nie onderskat word nie, veral as hulle lewend gehou moet word.

Vis word maklik sleg in warm weer, soms binne ‘n paar uur.  Daarom is dit noodsaklik dat oestye goed beplan word om toe te laat vir verwerking, berging en verkoop van die vangs voordat dit begin bederf en nie meer geskik is vir die mark nie. Verkoeling mag noodsaaklik wees vir beide berging en vervoer van die vis.

Translated by Elna Van Rhyn