Spinasiebeet Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Voortplanting is deur die saai van saad.

Hoe om te plant

Direkte saai word gebruik en uitdunning of meganiese aanplanting kan gedoen word om die korrekte spasiëring te verseker. Die saad moet 20 mm diep gesaai word. Saad kan ook in saadkassies gesaai word en uitgeplant word wanneer dit tot tien sentimeter lank is.

Spasiëring

Plante moet tussen 10 - 20 cm van mekaar af in rye van 30 - 40 cm uitmekaar wees. Dit is 16 tot 30 plante per m², dus 160 000 tot 300 000+ plante per hektaar.

Saaityd

Alhoewel spinasiebeet regdeur die jaar gesaai kan word as die klimaat reg is, is daar in Suid Afrika twee hoof saaitye wat gebruik word. Januarie tot April as die winter nie te koud is nie en Augustus tot Desember.

Groeiperiode

Die oes van die eerste buitenste blare kan 70 - 80 dae na saaityd begin. Om langer produksie tydperke en dus hoër opbrengste te verseker, vereis spinasiebeet ’n konstante bron van stikstof in die grond.

Bemesting

Voor saaityd as die grond voorberei word moet ’n aanvanklike toediening van tussen 700 kg en 1000 kg van ’n goeie mengsel stikstof, fosfaat en kalium soos 2:3:2 in die bo-grond ingemeng word. Daarna moet 250 kg KAN op vier weke en agt weke na saaityd toegedien word. Die gebruik van hoendermis wat hoog is in stikstof, kan ook die opbrengs aansienlik verhoog tot soveel as 70 ton per hektaar.

Besproeiing

In die eerste maand van die plant se groei moet die grond daagliks gekontroleer word om te verseker dat die plant geen waterprobleme ondervind nie aangesien spinasiebeet baie sensitief is hiervoor. By hoër temperature wanneer grond vinniger uitdroog, moet spinasiebeet weekliks of selfs twee keer per week natgemaak word. In koeler gebiede kan besproeiing met 14 dae tussenposes geskied. Onthou te alle tye dat spinasiebeet met sy relatief vlak wortelstelsel sensitief is vir grondvog. Dit is noodsaaklik om twee keer per week die grondvog inhoud te toets.

Translated by Ananda Schoeman