Spinasiebeet

© Louise Brodie
Wetenskaplike naam: Beta vulgaris var. cicla

Plant Beskrywing

Spinasiebeet is ’n Blaaragtige plant met blink, bros, lig- of donkergroen blare 25 - 40 cm lank en 15 - 20 cm wyd. Die blare is relatief reguit wanneer onvolwasse, maar begin later krul. Die verskillende variëteite se stingels het verskillende kleure wat interessante bemarkingsgeleenthede en vertoon vir kruidenierswinkels en spyseniers bied. Die plant kan vir twee jaar lank geoes word soos die blare afgesny word.

Gebruike

Die blare word gekook, maar die jong blare word ook rou in slaaie geëet of versap. Die plant het ’n hoë Vitamien A inhoud en is hoog in folaat (foliensuur). Dit is baie gesond in kinders se dieet.

Grondvereistes en voorbereiding

Spinasiebeet kan in die meeste grondsoorte geplant word, maar gedy in sanderige leemgrond wat goed dreineer en ’n pH van 6 – 7 het. Die plant duld nie suurgrond nie, daarom kan ’n toediening van dolomitiese kalk nodig wees om die grond tot bo 6pH te bring.

Klimaat

Spinasiebeet is ’n koel-klimaat plant, maar kan in temperature van 8°C - 25°C gedy. Die plant kan nie temperature onder 5°C of bo 28°C hanteer nie. Alhoewel spinasiebeet ’n bietjie ryp kan oorleef is dit nie heeltemal bestand daarteen nie. Hoër temperature beperk die groei van die blare.

Kultivars

Magenta Sunset, Fordhook Giant, Canary Yellow, Lucullus, Flamingo Pink, Red Rhubarb en Barese.

Translated by Ananda Schoeman