Soetrissie Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Soetrissie plant voort met die saai van saad.

Hoe om te plant

Saad kan direk gesaai word, maar die meeste produsente gebruik nie hierdie metode nie. Die saad word in voorbereide beddings of saadkassies gesaai. Sodra die saailinge gevestig is en ongeveer 15+ cm lank en sterk genoeg is, word dit in die voorbereide lande uitgeplant.

Spasiëring

Soetrissie word 40 cm – 50 cm uitmekaar in rye wat 50 cm van mekaar af is geplant. Dit bied ’n effens groter ruimte vir plaasimplemente en werkers om tussendeur te beweeg. Dit vereis sowat 30 000 tot 45 000 plante per hektaar, afhangende van die spasiëring wat deur die spesifieke produsent bepaal word.

Saaityd

In ’n beskutte omgewing soos ’n kweekhuis of waar die laatwinter en lente temperature warmer is kan saaityd in Julie begin. As soetrissie saailinge direk in die lande gekweek word, is die beste tyd laat in Augustus om die koel lenteweer te vermy.

Planttyd

Ongeveer vyf tot ses weke na die saai van die soetrissie saad kan die saailinge uitgeplant word. Dit sal gewoonlik laat Julie tot middel September wees, maar kan egter tot die einde van Desember gedoen word.

Groeiperiode

Dit kan tot vyf maande vanaf saaityd neem voordat die gekleurde soetrissies (rooi, geel, pers, wit of oranje) geoes word. Die groen soetrissie, wat die onvolwasse vrug is, kan vanaf agt weke na die aanplant van die saailinge geoes word.

Bemesting

Dit is raadsaam om ’n ordentlike grondanalise te laat doen voordat soetrissie aangeplant word. Algemene riglyne vir die bemesting van soetrissies word hier bespreek. Maak seker die area is ordentlik omgeploeg en gelyk. Met die laaste ploeg dien 800 kg - 1000 kg 2: 3: 4 (30), ’n mengsel van stikstof, fosfaat en kalium, in die boonste 20 cm grond toe.
Indien drupbesproeiing gebruik word is dit beter om die ekwivalent as ’n vloeibare kunsmis gedurende die eerste 4 weke van groei, tot en met drie weke voor die eerste soetrissies geoes word, toe te dien. Vir oorhoofse en vloedbesproeiing moet daar ongeveer 6 weke na planttyd 250 kg KAN per hektaar toegedien word. Hierdie tweede bemesting kan in twee gedeel word en op ses en agt weke toegedien word.

Besproeiing

Besproei ongeveer 30 mm - 40 mm water per week gedurende die groeiperiode. Dit is raadsaam om vogmeters te installeer wat die grondvog monitor. Aangesien die meeste van die wortels in die boonste 30 cm geleë is kan selfs ’n graaf of gebruik word om die voginhoud vas te stel.
Die beste besproeiingstelsel is drupbesproeiing onder ’n plastiek deklaag aangesien dit die boer meer beheer oor die besproeiing en bemesting van die gewas gee. Vloedbesproeiing kan tot te veel water of droë toestande lei aangesien dit moeiliker is om te beheer. Oorhoofse besproeiing kan swamsiektes en verrotting veroorsaak.

Translated by Ananda Schoeman