Skoffel, Ploeg en Eg

Skoffel

©Roger de la Harpe
Die ware betekenis van bewerking verwys na enige voorbereiding van grond wat beplant gaan word. Dit sluit in ploeg, eg of skoffel. Dit kan met die hand gedoen word (met ‘n graaf) of meganies met die toerusting hieronder geïllustreer. Bewerking van die grond kan ook bloot verwys na die voorbereiding van die saadbed en die bewerking van die boonste 20 tot 30 cm grond waarna verwys word as die bogrond.

Ploeg

©Roger de la Harpe
Ploeg manipuleer of maak die grond los tot op ‘n dieper vlak. Dit hang af van die gewas wat geplant gaan word, die diepte van die gewas se wortelgroei en die aard van die grondstruktuur. Daar word oor die algemeen geploeg as daar hindernisse in die grondstruktuur is wat wortelvorming asook dreinering belemmer.
Indien grond gekompakteer is, herstel ploeg ook die probleem. As bemestingstof, oganiese bemestingstof, kompos, mis of kalk in die grond se wortelarea nodig is, kan dit ook bewerkstellig word deur dit in die grond in te ploeg. Dit geskied normaalweg op ‘n diepte van tussen 30 tot 100 cm.

Eg

©Roger de la Harpe
Daar is ‘n paar soorte êe, maar die algemeenste is die skotteleg, tandeg en die veertandeg. Die eg is die implement wat deur boere gebruik word om die grond gelyk te maak en die saadbed voor te berei vir die saad of saailinge wat geplant gaan word. Die eg word gebruik om die grondkluite of onkruid en oesreste op te breek wat in en bo-op die bogrond is. Dit skep ook ‘n meer homogene bogrondstruktuur wat dit makliker maak vir die nuwe, jong wortels om te ontwikkel na ontkieming.

Translated by Elna Van Rhyn